MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap van Mosselbaai en George het op Maandag, 20 September hande gevat met die polisie, buurtwagte, plaaswagte en Eden Distrik Sekuriteitsmaatskappy toe hulle gehelp het om drie gevangenes wat uit 'n polisievoertuig ontsnap het, weer in hegtenis te neem.
'n Brandweerman van Mosselbaai, Ricky du Preez (37) was om ongeveer 16:00 besig om 'n brand by Groot Brak-hoogte te blus, toe hy 'n ooggetuie van die ontsnapping was.
Du Preez sê hy het in die verte die voertuig op die N2 sien ry.
Drie mans het aan die buitekant van die voertuig vasgeklou.
"Die een het op die dak gelê en twee het agterop gestaan. Wat vir my vreemd was, was die spoed waarteen die voertuig gery het. Ek skat dit was seker teen 100km per uur. Ek het toe dadelik besef daar is groot fout."
LEES: Prisoners escaped through roof of vehicle, police confirm
Du Preez het onmiddellik 'n oproep na die Mosselbaai-munisipaliteit se brand-, redding- en rampbestuurdienste gemaak. Hy het ook die inligting op 'n noodgroep geplaas.
Ricky du Preez het die gevangenes op die dak van die polisievoertuig gesien.
Die gevangenes, tussen die ouderdomme van 27 en 30 het intussen in die Hoogekraal-omgewing van die voertuig afgespring en gevlug.
Polisiekommunikasie-beampte, kapt Malcolm Pojie sê die gevangenes het ontsnap deur 'n gedeelte van die dak van die voertuig oop te buig. Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat daar nog gevangenes in die voertuig was, maar dat hulle nie probeer vlug het nie.
Hulle was vanaf die Mosselbaai-landdroshof na die korrektiewe sentrum op George onderweg.
Die mans word van verskeie ernstige misdrywe aangekla, wat moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, insluit.
Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum
Intussen het die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum van die voorval te hore gekom.
Voorsitter Arthur Riordan het toe sy kontakte in George, wat onder meer buurtwagte en plaaswagte insluit, ingespan.
Mosselbaaier, Ampie Kruger het sy hommeltuig beskikbaar gestel en plaaswerkers het die polisie ingelig in watter rigting hulle die verdagtes sien vlug het.
Skaars 20 minute nadat die mans ontsnap het, is hulle weer in die Hoogekraal-omgewing in hegtenis geneem.
Die verdagtes staar nou ook 'n aanklag van ontsnap uit wettige bewaring in die gesig.
Verskeie polisielede was betrokke by die in hegtenisname van die drie gevangenes.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'