MOSSELBAAI NUUS - 'n Bekende misdadiger met verskeie vorige veroordelings het sy rieme styfgeloop in die Mosselbaai Distrikshof toe landdros Piet Venter op Woensdag 12 Desember borgtog geweier het in die jongste saak waarop hy tereg staan.
Dachan Taute (26), wat so onlangs as 30 Oktober op parool vrygelaat is, word daarvan aangekla dat hy op 6 Desember die perseel van die NSRI Mosselbaai betree het terwyl NSRI-lede op die perseel was en 'n skootrekenaar, radio, asook die NSRI se voertuig gesteel het.
Hy het daarbenewens ook 'n NSRI-baadjie gebuit.
"Wat die beskuldigde nie begryp het nie, is dat die voertuig wat hy gesteel het, gebruik word om lewens te red - vir mense in nood is dit die verskil tussen lewe en dood," het die bevelvoerder van die Mosselbaai NSRI, André Fraser aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die NSRI se voertuig is, danksy 'n opsporingstelsel, digby Heroldsbaai opgespoor waar Ao Beer vir Taute, wat voorgegee het dat hy vir die NSRI werk, naby Groeneweide gearresteer het.
Die bevelvoerder van die Voertuigdiefstaleenheid op George, Kapt Kotie Bosman, het borgtog teengestaan. Sy het aan die hof meegedeel dat die diefstal die effektiewe funksionering van die NSRI wesenlik kon beïnvloed aangesien slegs die gesteelde voertuig toegerus is om reddingsbote te kan sleep. Sy het ook klem gelê op Taute se groot aantal vorige veroordelings en dat hy boonop ook tereg staan op 'n aantal hangende sake.
Bosman het Taute as 'n waarskynlike vlugrisiko beskryf omdat hy nie oor 'n vaste adres of heenkome beskik nie.
Die mees onlangse saak waarvoor Taute gearresteer is, was vir motordiefstal by die winkelsentrum in Heiderand. Hy is egter welbekend in veral die Da Nova-area.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'