MOSSELBAAI NUUS - Na 'n maand van uiteenlopende sportaktiwiteite, loop die negende Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees ten einde met die burgemeester wat ook sy unieke stempel op die geleentheid afgedruk het. Môre, 22 Oktober nooi die uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé die gemeenskap om deel te neem aan 'n staptog op die St Blaize-staproete.
"Die staptog word om verskeie redes aangebied. Een daarvan is om bewusmaking te skep van die pragtige roetes wat in Mosselbaai se ongeskonde natuurskoon beskikbaar is."
"Dit is boonop daardie tyd van die jaar wat almal daarna begin uitsien om hul batterye 'n bietjie te herlaai. Om in die natuur te wees, is een manier om dit te doen," meen Kotzé.
Kotzé deel graag sy liefde vir beide die natuur en vir sport en beskou die staptog as 'n tasbare uitvloeisel van die Mosselbaai-munisipaliteit se GROEI-strategie waarvan een van die fokuspunte onder meer maatskaplike herlewing is.
"Verlede Maandag, 10 Oktober was Wêreld-geestesgesondheidsdag en ons almal ken die waarde van die balans tussen 'n gesonde liggaam en 'n gesonde gees. Die sportfees insigself het ten doel gehad om hiertoe 'n unieke bydrae te lewer."
Staptog
Die beplande staptog begin môre om 08:00. Deelnemers kan by die Mosselbaai-brandweerstasie op die hoek van Schoemanstraat en Louis Fourieweg byeenkom. Deelname is gratis en op eie risiko. Voertuie kan agter die brandweerstasie geparkeer word. Stappers sal vanaf die brandweerstasie stap om by die St Blaize-roete aan te sluit en dan in die rigting van Die Punt stap. Die afstand is 8,8km. Busvervoer sal beskikbaar wees vir diegene wat weer by hulle voertuie moet uitkom.
Buurtwagte, die munisipaliteit se vennote in gemeenskapsveiligheid, is uitgenooi om die geleentheid vir fondsinsameling te gebruik en sal worsbroodjies by Die Punt te koop aanbied. Daar sal ook 'n waterpunt verskaf deur Gozone op die roete beskikbaar wees. Onthou gemaklike stapskoene, 'n hoed en ander geskikte sonbeskerming.
"Ons wil ook graag deur middel van die staptog kyk of ons ons gemeenskap kan mobiliseer om eienaarskap van die St Blaize-roete te neem in terme van instandhouding. Die roete is 'n besonderse aantreklikheid en is beslis 'n ikoniese toerismebate waarby ons almal baat."
Vir meer inligting oor die staptog besoek Facebook by Mossel Bay Municipality of Mayor Dirk Kotzé.
Jeug
Kotzé het ook die jeug vandeesweek bemoedig om gefokus en doelgerig te bly terwyl hulle voorberei om die einde van die skooljaar tegemoet te gaan. Hy het spesifiek melding gemaak van die matrieks wat tans in die pylvak van hulle skoolloopbaan is met die matriekeindeksamen voor hande.
"Ons wens on matrieks sterkte toe, maar ons rig veral 'n pleidooi aan hulle geliefdes om hulle te ondersteun in hierdie uitdagende tyd. Matrieks, bly positief en onthou, hierdie moeilike tyd gaan ook verby, soos elke uitdaging wat oor 'n mens se pad kom."
Kotzé het ook besoek afgelê by families wat geliefdes onder uitsonderlike omstandighede aan die dood afgestaan het. Hy het die gesinne van Lusanda Sixaxeni, Khanya Mafuta en Kristy James besoek. Wyle Lusanda Sixaxeni, 'n onderwyseres is in China oorlede, terwyl Khanya Mafuta en Kirsty James tydens voorvalle van kontakmisdaad oorlede is. Beide Sixaxeni en James het voorheen vir 'n tydperk by die munisipaliteit gewerk.
Geloofsgemeenskap
Met die oog op samewerking en 'n geïntegreerde benadering tot kwessies wat die gemeenskap binne die groter Mosselbaai raak, word gereelde byeenkomste tussen die munisipaliteit en die geloofsgemeenskap in die voortuisig gestel. In die verlede, het die munisipaliteit met groot sukses soortgelyke geleenthede gehou waartydens geloofsleiers betrek is.
"Veral met die oog op maatskaplike regenerasie asook ander uitdagings in ons dorp, is die geloofsgemeenskap se insette vir ons kernbelangrik," noem Kotzé. Die eerste van hierdie netwerkgeleenthede sal in November plaasvind.
Nog 'n kalenderhoogtepunt wat inwoners solank kan aanteken, is die gesellige byeenkoms waartydens Mosselbaai se feesliggies aangeskakel word op 10 Desember in die Harry Giddey-park. Meer inligting hieroor volg binnekort.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'