MOSSELBAAI NUUS - Arbeidsbediening Mosselbaai het op Vrydag, 11 November hul jaarlikse gholfdag by die Mosselbaai-gholfklub aangebied. Die dag is onder leiding van Johan Nel Prokureurs aangebied met 92 spelers wat in heerlike sonskynweer mekaar die stryd aangesê het.
Jacques en Elsabe Potgieter, met 'n allemintige 50 punte, was die wenners van die dag se vierbal beterbalkompetisie.
Cobus en Marelize van der Vlies het met hulle 49 punte as naaswenners geëindig. Die hoogtepunt van die dag was egter toe Stan Panek 'n perfekte kolhou op die 12de putjie aangeteken het.
Danksy borgskappe was ongeveer R14 000 se pryse op die spel en was Gerald Glover die gelukkige wenner van 'n kruiwa vol kruideniersware wat deur Rauch Gertenbach Prokureurs geborg en uitgeloot is.
"Danksy al die borgskappe en die sukses van die gholfdag, kan Arbeidsbediening Mosselbaai voortgaan om plaaslike besighede en boere se werknemers op 'n gereelde basis met die Woord te bedien," sê Annette Strydom, woordvoerder en hulpwerker van Arbeidsbediening Mosselbaai.
'n Groot sleutelrol om die gholfdag te organiseer, borge te nader en vriende van Arbeidsbediening by die gholfdag betrokke te maak, is deur Pierre Lamprecht, voltyds in diens van Arbeidsbediening Mosselbaai, gespeel.
"Arbeidsbediening bedank elke borg vir hulle bydrae. Sonder die borge en spelers sou die gholfdag se sukses nooit moontlik gewees het nie. Ons sien uit na volgende jaar se gholfdag."
Gerald Glover gelukkige wenner van die kruiwa vol kruideniersware. By hom is Annamé de Wet van Johan Nel Prokureurs.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'