Die kinders se ma, Shamia de Jager, was ten tye van die voorval by die werk.
Die kinders is vermoedelik deur hulle pa verwurg, waarna Saayman homself opgehang het. 'n Nadoodse ondersoek is op Woensdag, 22 Augustus uitgevoer, maar die finale uitslag was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Saayman, was werksaam by Carpet Specialist en was bekend as 'n ambagsman van formaat. Sy werkgewer, Riaan Smit, beskryf hom as 'n uiters betroubare werknemer en hy het ook glo glad nie gerook of alkohol gebruik nie. Volgens Smit, in wie se diens Saayman meer as 10 jaar was, was hulle verhouding gebaseer op wedersydse respek en vriendskap. Smit het per geleentheid selfs sy privaat voertuie aan Saayman geleen.
Smit was bewus van Saayman en De Jager se verhoudingsprobleme, maar het hy geen verandering in Saayman se gedrag of werklewering bemerk nie. Hy het gesê dat die voorval vir hom 'n geweldige skok was, aangesien Saayman sy kinders se sorg op die hart gedra het.
Elvizo Saayman, 'n broer van die oorledene, het genoem dat hulle 'n baie mooi verhouding gehad het. Volgens hom was Saayman altyd 'n steunpilaar vir almal wat hom nodig gehad het. Hy het egter ook gesê dat Saayman die verbrokkeling van hom en De Jager se verhouding moeilik verwerk het. Hy het sy broer Saterdag, 18 Augustus laas lewend gesien.
Saayman se bure, wat op die liggame afgekom het, woon reeds ses jaar langs hom. Hulle het 'n hegte en openhartige verhouding van goeie buurmanskap gehad. Saayman se kinders was ook dikwels by hulle aan huis.
Hy het glo Saterdag aan sy bure genoem dat hy 'n bankrekening vir sy 16-jarige dogter, uit 'n vorige verhouding, geopen het. Buiten dat Saayman reeds die vorige Donderdag sy woning se vensters van binne begin toeplak het, het hulle niks vreemds omtrent sy gedrag opgemerk nie. By navraag oor die toegeplakte vensters, het Saayman aan sy buurman genoem dat hy nie daarvan hou dat mense binne-in sy huis kan sien wanneer hy op die toegeboude stoep werk nie.
Die bure het bevestig dat hulle kinders vir Melissa op Sondag rondom 10:00 laas lewend gesien het toe sy deur die venster vir hulle gewaai het. Dit was hulle gebruik om Melissa Sondagoggende te help aantrek. Saayman wou egter Sondag nie die kinders toegang tot die huis gee nie en het knorrig voorgekom.
'n Aangetroude famlilielid, Dawid Kamfer en sy vrou Winnie, wat baie na aan Saayman was, het bevestig dat toe hy verlede Vrydag by hulle aan huis was, hy baie neerslagtig voorgekom het. Hy het te kenne gegee dat hy van plan was om sy lewe te beëindig. Kamfer en sy vrou het bemoeienis met Saayman gemaak, maar Saayman het nie gedurende die naweek selfoonoproepe beantwoord nie.
Kamfer het Saayman se huis verskeie kere, veral op Sondag, besoek en hom die laaste keer lewend gesien omstreeks 12:00. Toe Kamfer navraag doen na die kinders, het Saayman blykbaar gesê dat hulle nog slaap. Kamfer het hulle stil in die bed sien lê, maar is huis toe nadat Saayman gesê het dat hy en die kinders hulle later sou besoek.
Hy is kort hierna deur 'n vorige vriendin van Saayman verwittig dat hy per SMS beken het dat hy sy kinders om die lewe gebring het en gaan selfmoord pleeg. Saayman het afsonderlike briewe aan De Jager, sy broers en suster, asook aan Kamfer agtergelaat.
Shamia de Jager en haar familie was teen druktyd steeds nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Volgens 'n verklaring deur kapt Bernadine Steyn, word 'n saak van moord deur die SAPD ondersoek.
Mark Saayman word op Saterdag, 25 Augustus om 11:00 vanuit die All Saints Anglikaanse Kerk begrawe.

Mark Saayman (41).