MOSSELBAAI NUUS - Om 'n beskermingsbevel teen iemand te kry, is dikwels vir slagoffers van geweld 'n moeilike taak. Des te meer as dit 'n lid van jou gesin of familie is.
In so 'n geval was 'n 56-jarige vrou genoop om na vele insidente van diefstal, aanranding en emosionele aftakeling, 'n beskermingsbevel teen haar 28-jarige seun te bekom. Die laaste insident waartydens die seun sy ma en haar man aangerand het, het in Maart vanjaar plaasgevind.
Die 28-jarige beskuldigde is op 13 November in die Mosselbaai-landdroshof skuldig bevind aan gesinsgeweld en verbreking van die voorwaardes van 'n beskermingsbevel. Hy is gevonnis tot 15 maande gevangenisstraf.
"Met die oog op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, is hierdie vonnis 'n bewys van die erns wat die department justisie neem om gesinsgeweld vas te vat," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Die saak is susksevol ondersoek deur adjudant offisier A Stokes van die Da Gamaskop-speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'