MOSSELBAAI NUUS - Die altesaam 204 spelers het Woensdag, 14 Desember in heerlike weer by die Mosselbaai-gholfklub baljaar.
Dit was dan ook die laaste keer vanjaar dat hulle Denzil Kleu Eiendomme en hul vriendelike span se borgskap kon geniet.
Die gholfklub sien uit na volgende jaar wanneer hulle weer eens bevoorreg sal wees om hulle as ‘n borg van hulle kompetisies te mag hê.
"Baie dankie vir ‘n wonderlike jaar wat ons bande met julle kon smee."
Die individuele stablefordkompetisie wat plaasgevind het, het gholf uit die boonste rakke gelewer. Pierre Meyer was ‘n gewilde wenner op 42 punte. Vier manne het hard in sy nek geblaas. Die naaswenner, Willem Nel, op 41 punte, kon eers na die uittel-proses die bo-toon voer. Chris Barnard, Pieter Fourie en Koos van Niekerk, almal op 41 punte, het die oorblywende plekke onder die pryswenners beklee. Welgedaan manne.
Opwindende finaal
Die winteruitklop-toernooi in die enkelspel het toe weer eens ‘n opwindende finaal te weeg gebring. Verlede jaar se kampioen, Gert Pieterse, het ‘n welverdiende oorwinning oor Sakkie Morrison behaal. Na 18 putjies was die twee finaliste nog kop-aan-kop en Gert kon eers na die derde uitspeel-putjie die knoop deurhaak.
Gert se vegtersinstink en deursettingsvermoë is prysenswaardig. Oor die afgelope aantal jare het Gert al die titel drie keer verower en vanjaar was dit die vierde keer. Veels geluk Gert, jy is ‘n waardige wenner.
Die gholfklub wens al hulle lede en besoekers ‘n wonderlike feestyd toe. Mag die nuwe jaar vol vreugde en goeie gesondheid wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'