Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Raadslede verteenwoordigend van beide die ANC en DA het na afloop van 'n spesiale raadsvergadering op Woensdag op gepaste wyse afskeid van twee groot geeste geneem.
Die provinsiale voorsitter van die ANC, raadslid Jovan Bruinders het tydens 'n dringende mosie gevra dat beide Gezina Dora Pedro en Dawid Groenewald eerbiedig moet word vir die reuse bydrae wat hulle in die gemeenskap gelewer het.
Groenewald het as opvoeder diep spore getrap en was onder meer die eerste skoolhoof van 'n sekondêre skool in Mosselbaai, naas Hoërskool Punt. Later het hy volgens Bruinders gereeld ander skoolhoofde by sy huis onthaal waar hy as mentor en raadgewer 'n inspirasie vir ander was.
Pedro se reusebydrae tot die gesondheid van veral TB-lyers het 'n onuitwisbare merk op die gemeenskap gemaak. "Selfs snags na 22:00 was sy op haar pos, het sy die gemeenskap gedien," het raadslid Bruinders gesê. Hy het me Pedro geloof vir die verskil wat sy gemaak het om voedingskemas tot stand te bring.
Beide leiers, het Bruinders gesê, het met hul gemeenskapsbydrae gehelp om die geskiedenis van D'Almeida te skryf. "Hul bydraes het die gemeenskap gedien, en nie net in hul beroepe nie.
'n Versoek deur raadslid Bruinders dat vlae in die groter Mosselbaai halfstok hang ter ere van die gestorwe ikone is entoesiasties deur alle raadslede ondersteun.
Na afloop van die raadsvergadering het van die raadslede voor die munisipale kantore in Marshstraat byeengekom en het die uitvoerende burgemeester, Raadsheer Harry Levendal die munisipale vlag gestryk.
Raadsheer Levendal het benadruk dat die leierskap en gewillige opofferinge van die twee gestorwenes vir die jeug van vandag ware voorbeelde is.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'