Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Die risiko vir die verspreiding van listeriose weens agterplaasslagtings is gering en daar is nog nooit sodanige gevalle in die Mosselbaai-distrik aangemeld nie.
"Die slag van plaasdiere binne woonareas vir kulturele redes is toelaatbaar, mits sekere vereistes nagekom word."
Só berig die senior kommunikasiebeampte van die Eden-distriksmunisipaliteit (EDM), Herman Pieters, op navrae oor vrese oor die toename in die aantal plaasvee wat in woongebiede soos KwaNonqaba skynbaar toegelaat word.
Inwoners het onlangs weer gekla oor die skynbare toename in vrylopende plaasvee in gevestigde woongebiede soos KwaNonqaba, terwyl verordeninge oor die aanhou van diere in die res van Mosselbaai se woongebiede streng toegepas word.
Veral kommerwekkend, sê inwoners, is die waarskynlike gesondheidsgevare wat die onwillekeurige ontlasting van die vrylopende diere in openbare areas kan meebring.
Veekrale
Talle besware is geopper teen veral die veeplaas wat naby die N2 in omvang toeneem, met aantygings dat die diere in haglike omstandighede daar aangehou word en selfs op die perseel op onmenslike wyse geslag word.
Skynbaar beskik Mosselbaai nie oor slagpale waar inwoners hul diere kan neem om geslag te word nie.
Benewens hierdie veekrale, wys inwoners op 'n skaapkraal wat grens aan 'n huis in 'n formele woongebied, en die honderde vrylopende diere soos hoenders, varke, bokke en skape tussen wonings.
Met die gevaar van voëlgriep wat by seevoëls in die omgewing geïdentifiseer is, is inwoners bekommerd oor die waarskynlikheid dat die besmetting na die woongebied se hoenders kan uitbrei.
Een inwoner, oud-raadslid Flip du Plessis, sê hy is radeloos oor die skynbare blinde oog wat op die onwettige boerderye gekeer word.
Ondanks talle skrywes aan onder meer die plaaslike munisipaliteit, die Eden Distriksmuni-sipaliteit, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike owerheid, minister Anton Bredell en die LUR vir Gesondheid, minister Nomafrench Mbombo, blyk dit dat daar uit owerheidsweë nie opgetree word teen die onbeheerste toename in plaasvee in 'n geformaliseerde woongebied nie, en ook nie omgesien word na wat hy as 'n gesondheidsrisiko beskryf nie.
Die omliggende gemeenskappe, sê hy, loop deur onder die verwante probleme soos 'n skynbare toename in vlieë en brommers.
Eden DM reageer
Volgens 'n skrywe van die EDM se hoof van munisipale gesondheid, mnr Sam Bendle aan mnr Du Plessis op 13 Julie verlede jaar, is dit die verantwoordelikheid van 'n plaaslike munisipaliteit om teen die veeboere op te tree.
Herman Pieters het ook by navraag aan die Mossel Bay Advertiser berig: "Algemene inspeksies oor die aanhou van diere word nie (deur die EDM) gedoen nie, omdat dit 'n primêre funksie van Mosselbaai Munisipaliteit is.
"Mosselbaai het wetgewing om diere te skut, getalle van diere voor te skryf en ook watter tipe diere in 'n woongebiede toelaatbaar is."
Pieters het bygevoeg die EDM is wel verplig om die onstaan van gesondheidsoorlaste te voorkom en toe te sien dat daar nie gesondheidsoorlaste binne die Eden Distrik ontstaan nie.
"Dit sluit die aanhou van diere wat gesondheidsoorlaste veroorsaak in, en indien dit iewers onstaan of by EDM aangemeld word, sal die eienaar van die plaasdiere ingelig word om toekomstige gesondheidsrisikos te vermy."
Pieters sê tydens 'n onlangse vergadering tussen die twee plaaslike owerhede het Mosselbaai Munisipaliteit onderneem om 'n opname van diere en hul eienaars te doen om die omvang van die probleem vas te stel.
Daar sou ook met beamptes van departement landbou geskakel word om te verseker dat die diere ingeënt word en dat die moontlikheid van alternatiewe grond vir die aanhou van diere ondersoek word in samewerking met verteenwoordigers van die gemeenskap.
Die EDM nooi inwoners om probleemgevalle onder hul aandag te bring.
"Onbetrokkenheid van die breë gemeenskap vererger net die situasie en 'n beroep word op die gemeenskap gedoen om probleemgevalle by Eden se plaaslike kantoor te rapporteer vir verdere aandag en optrede."
Met herhaalde onaangekondigde besoeke aan die veeplaas teen die N2, het die Mossel Bay Advertiser geen bewyse gevind dat diere daar geslag word nie.
Hoewel nie skitterskoon nie, het die meeste krale waterbakke met water in gehad.
Meeste van die krale, met die uitsondering van 'n hok met hoenders, was leeg.
Die afleiding is gemaak dat diere bedags toegelaat word om los rond te loop maar snags op hok gehou word.
Daar was wel herhaalde voorvalle opgemerk waar plaasdiere op paaie, selfs op Louis Fourieweg voorkom.
In die meeste gevalle is 'n wagter wel by die diere opgemerk.
Mosselbaai munisipaliteit reageer
"Plaasdiere in woonbuurte is 'n uiters sensitiewe kwessie en verskeie faktore speel 'n rol.
"Die kantoor van die speaker se vorige inisiatiewe om die probleem aan te spreek word weer geïmplementeer. Intussen is daar wetstoepassing ten opsigte van diere wat na willekeur wei.
"In sommige gevalle word hierdie diere by die DBV geskut en/of kennisgewings uitgereik aan die diere-eienaars, waar nodig.
"Klagtes hieroor word ook hanteer soos wat dit ingedien word," het die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'