MOSSELBAAI NUUS - Danabaaiers het met gemengde gevoelens reageer op die Mosselbaai-munisipaliteit se voorstelle vir 'n geïntegreerde behuisingsontwikkeling suid van Louis Fourieweg, oos van Danabaai en wes van Heiderand.
Dit volg waarskynlik omdat inwoners meen dat munisipale verteenwoordigers tydens 'n openbare vergadering op 26 Julie 2018 spesifiek sou gesê het dat dié betrokke area nie vir ontwikkeling geoormerk is nie.
Hoewel talle hul kommer gelug het, was ander wat die onlangse openbare vergadering bygewoon het, ten gunste van die voorstelle.
Die betrokke area beslaan die enigste oorblywende, onbeboude munisipale eiendom in die verstedelikte gebied van Mosselbaai vir 'n geïntegreerde oplossing vir 'n verskeidenheid geïntegreerde behuisings- en sosiale infrastruktuur.
"Die munisipaliteit is voornemens om op hierdie grond 'n behuisingsontwikkeling te skep wat sal voldoen aan die beginsels van die nasionale ruimtelike beplanningswetgewing (SPLUMA) ten opsigte van sosiale integrasie en sosiale geregtigheid, wat aanvaarbaar sal wees vir alle gemeenskappe," het die projekkoördineerder en stadsbeplanner, Willem de Kock van WM De Kock en Genote gesê.
'n Multi-dissiplinêre paneel van sprekers het onlangs aanbiedings in KwaNonqaba, Danabaai en Heiderand gedoen om die voorgenome ontwikkeling bekend te stel en die inwoners te nooi om insette te lewer.
Die voorgenome ontwikkeling maak onder meer voorsiening vir sosiale behuising wat laagbesoldigde inwoners sal kan huur, tot ook losstaande wonings van minder as R1 miljoen per eenheid vir privaatbesit.
"Daar is 'n behoefte aan eiendomme met 'n waarde tussen R350 000 tot R1 miljoen vir jong professionele persone, intreevlak, of eerstekeerhuiskopers soos staatsamptenare en middelinkomste-gesinne" het Jaco Roux, munisipale stads- en ruimtelike beplanner gesê.
"Die projek sal kan voorsien in die uiteenlopende behuisingsbehoeftes van die sowat 10 000 persone op die munisipale behuisingswaglys."
Voorsiening sal gemaak word vir volledig gesubsidieerde Breaking New Ground-behuising ('n nuwer weergawe van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram, of HOP-behuising), GAP-behuising (huise beskikbaar vir privaattransaksies aan kwalifiserende kopers); Finance Linked Individual Subsidy Programme (FLISP) behuising, asook huureenhede in onder meer hoëdigtheideenhede.
Skole en kerk
Ruimte is gelaat vir 'n hoër- en laerskool. Soortgelyke ruimtes is sedert die ontstaan van Danabaai en Aslapark beskikbaar, maar is nooit deur die relevante departemente benut nie. Daar is voorsiening vir aanbidding- en gesondheidsorgfasiliteite.
Volgens voorstelle sal Louis Fourieweg omsoom word deur gemengde-gebruik, hoëdigtheidseenhede, "met voorsiening vir besighede op grondvlak, kantoorruimte op daaropvolgende vlakke en woonstelle op die hoër vlakke. Ook ander hoëdigtheidswoonstelle en duplekse word beplan." Die projekargitek het ontwikkelings soos die Lufhereng-behuisingsprojek in Soweto, Fleurhof (Johannesburg) en Pelican Park (Kaapstad) as voorbeelde van soortgelyke projekte in George as suksesverhale voorgehou.
"Ontwerpriglyne sal verhoed dat informele bousels op privaat en ander eiendomme aangebring word," het Lodewyk Coetzee van Coetzee Alberts Architects benadruk.
Verkeersopeenhopings
Die paneel het by navraag gesê die projekplan maak tans nie voorsiening vir wysigings aan Louis Fourieweg om die verwagte toename in verkeersdrukte te hanteer nie. Inwoners het gewys op verkeersdrukte op Louis Fourieweg tussen Langeberg Mall en die middedorp wat juis nie meer tot net vakansieseisoene beperk is nie. Kommer dat veral noodvoertuie se bewegings geraak sal word, is geopper.
Omgewingsimpakanalise
"Danabaaiers het 'n jaar gelede die munisipaliteit die mandaat gegee om uitsluitlik 'n alternatiewe toegang vir die woongebied te ontwikkel wat by die Herbertsdale-aansluiting by die N2 sal aansluit. Hierdie behoefte aan 'n alternatiewe toegang is vir sowat sewe jaar reeds op Wyk 11 se geïntegreerde ontwikkelingsplan. Ons vrees nou dat hierdie voorgenome ontwikkeling ons voorkeur-alternatief van die tafel vee. Die munisipaliteit bly sê die alternatiewe toegange word ondersoek, maar na 'n jaar is selfs nog nie 'n omgewingsimpakanalis vir dié taak aangestel nie," het 'n besorgde inwoner teenoor die Home Ads News opgemerk.
Veiligheidsvrese
Vrese oor die veiligheid van Danabaaiers is ook geopper. Die bestaande Florawegtoegang na Danabaai sal gesluit word. Die nuwe toegangspad vir Danabaai sal deel vorm van die toegangspad vir nuwe ontwikkeling wat by Crotzstraat by Louis Fourieweg sal aansluit.
Die Crotzstraat-aansluiting was in die onlangse verlede herhaaldelik 'n brandpunt tydens dienslewerings- en ander onluste.
Danabaaiers vrees dat toeganklikheid veral tydens spitstye in 'n nagmerrie sal ontaard wanneer die bestaande toegang tot Crotzstraat herlei word.
"Skielik het SANRAL nóu 'n probleem met Danabaai se bestaande toegang wat reeds meer as 25 jaar bestaan?"
Inwoners, sommige met uitgebreide internasionale ervaring in die eiendomsbedryf en blootstelling / ervaring by die Wêreldbank, het prontuit gesê die planne is onhaalbaar.
"Nêrens in die wêreld werk gedwonge ingetrasie nie. In die Suid-Afrikaanse konteks bring hoëdigtheidbehuising, soos die voorbeelde van Heideveld, Lavender Hill en Manenberg in Kaapstad bewys, hoë vlakke van misdadigheid en bendeverwante bedrywighede mee. Die areas in Kaapstad is selfs vir die polisie no-go areas. Bendebedrywighede, dwelmhandel en misdadigheid in Mosselbaai neem alreeds skerp toe. Die paneel kon nie die versekering gee dat veiligheid en sekuriteit van enige van die omliggende gemeenskappe tydens beplanning in ag geneem is nie. Daar is alternatiewe om behuisingsnood te verlig sonder om regte van bestaande inwoners in gedrang te bring of weg te neem," is aangevoer.
Ondanks besware, was daar steun vir die voorstelle.
Navrae kan gerig word aan Jaco Roux, munisipale stadsbeplanner (044 609 5071 of jroux@mosselbay.gov.za) of Willem de Kock, konsultant-stadsbeplanner (044 873 6603, 082 337 0285 of wmdek@lantic.net).
Roux het inwoners gevra om hul menings te lug by Dudley@djec.co.za of pieterhendrikmocke@gmail.com
Die projekvoorstelle is hier beskikbaar.
Die ontwikkeling maak ook vir oop ruimtes en sosiale ruimtes voorsiening.
'n Voorbeeld van die Fleurhof-ontwikkeling, Johannesburg wat as projekriglyn gebruik is in die voorgenome Louis Fourie-korridorprojek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'