MOSSELBAAI NUUS - "Christus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!" Dit was die refrein wat Sondagoggend op Paassondag vanaf Santosstrand met sonsopkoms, 06:59 opgeklink het.
Gelowiges van verskillende gemeentes, onder die inisiatief van NG Moedergemeente, in samewerking met Vida Nova en VGK-gemeentes het die opwekking van Christus met liedere en onder die geklank van die see en brekende branders gevier.
Dominee Gerrie van Deventer het 'n kort boodskap uit Johannes 21 gebring oor Christus se eerste verskyning na Sy opstanding. Hy het aan sy dissipels op die strand verskyn, waar Hy hulle met vis en brood verwelkom en die wonder van die 153 visse in die nette bewerk het.
Hoffie Brazel het die sonsopkoms met 'n shofar aangekondig. Hierdie was inderdaad 'n baie inspirerende ervaring vir die paar honderd gelowiges wat dit bygewoon het.
Gelowiges het die opstanding met groot vreugde op Paassondag gevier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'