Update
MOSSELBAAI NUUS - Sedert die Mossel Bay Advertiser in April vanjaar berig het oor Hartenbos Heuwels wat tydens beurtkrag onder koperdiewe deurloop, het misdaad in die gebied skerp toegeneem.
Misdadigers het die woongebied, sowel as Seemeeupark veral tydens beurtkrag begin teiken en koperpype asook krane gesteel.
Danksy die Hartenbos Heuwels-gemeenskapsveiligheidsforum het die misdrywe intussen egter weer begin afgeneem.
Soveel so dat daar die afgelope week vir vier dae geen verdagte aktiwiteite in die woongebied aangemeld is nie.
Voorsitter van die forum, Philip Mattheus sê hulle het die probleem dadelik vasgevat.
"Ons het saans tot 12 patrollievoertuie wat die woongebied sowel as Seemeeupark patrolleer en ons doen dit veral tydens kragonderbrekings."
Mattheus sê hulle het die afgelope week 'n verdagte gevang en aan die polisie oorhandig.
"Sedert ons met ons patrollies begin het, is daar verseker 'n afname in die voorvalle."
Die diewe spring volgens Mattheus bloot oor heinings in erwe in en steel dan die krane en koperpype. Mattheus versoek inwoners om bedag te wees en ligte, waar moontlik, te probeer aanhou.
Enigeen wat by die patrollies betrokke wil raak kan Quintin Greyling by Seemeeupark (082 758 5396) of Philip Mattheus (082 378 8277) kontak.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'