Die organisasie het in sy poging om selfs groter diensbaarheid in die gemeenskap te betoon, 'n baie noodsaaklike nasorgsentrum geopen in Powertown, waar tussen agt en 10 leerders eersdaags nie net hulp met hul huiswerk nie, maar ook 'n voedsame ete sal ontvang.
Volgens Jenny Bunyon van Mossel Bay Care Centre sal die nasorgsentrum, wat in 'n vraghouer gehuisves word, die kinders tot die einde van 2014 twee maal per week nasorgklasse bied, maar vanaf 2015 word die diens vanaf Maandag tot Donderdag aangebied.
Sanette van Biljon van Departement Sosiale Ontwikkeling, wat by die projek betrokke is, het haar opgewondheid tydens die opening uitgespreek oor al die verwikkelinge in Powertown wat die jeug betref.
Sy het ook ander rolspelers, by name die Eden Distriksmunisipaliteit, Womb-to-Tomb (George), die bestuursraad van die Power Kids-kleuterskool, die NG Reebok-gemeente en alle ander vrywilligers in die omliggende gemeenskappe bedank vir hulle volgehoue betrokkenheid by die Powertown-gemeenskap.
Sy het holistiese programme wat juis gefokus is op die gesinne van kinders betrokke by die kleuterskool en nasorgsentrum in die vooruitsig gestel.
Raadsdame Marie Ferreira, Burgemeester van Mosselbaai, het ook die verrigtinge bygewoon.
"Wanneer ek by geleenthede soos hierdie kom, is ek altyd ten diepste beïndruk deur mense wat bereid is om soveel van hulle tyd, energie, liefde en fondse, gratis, verniet en 'mahala' ter wille van ander op te offer. Dankie aan Mossel Bay Care Centre vir hierdie inisiatief."
Mossel Bay Care Centre is ook etlike jare al nou betrokke by Ridgeview Primêre Skool.
"Ons hoop en glo dat ons 'n groot verskil in die lewens van die kinders van Powertown gaan maak en sien baie daarna uit. Ons opregte dank aan Zac en Gabriël van Hollywoodbets, Lewis Stores, Portao Dias Hotel vir die yskas, grassnyer en gereedskap vir die groentetuin en ook aan Cape Diving vir hulle ondersteuning," sê Delene Berry van Mossel Bay Care Centre.
Gabriël Slabbert van Hollywoodbets, wat die tafels, stoele en skryfbehoeftes vir die nasorgsentrum verskaf het, saam met van die leerders.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'