Read previous articles:
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die gemeenskap van Groot-Brakrivier was onlangs geskok oor die voorval op Sondag, 28 Januarie, waartydens 'n geliefde en bekende inwoner van die dorp en haar hond deur 'n hawelose man verbaal geteister en met klippe gegooi is.
'n Getraumatiseerde Elsa Davids, was veral ontsteld oor hoe sy by die Groot Brakrivier-polisiestasie behandel is en oor haar ondervraging in 'n speurder se kantoor.
Elsa het die hoop uitgespreek dat haar ervaring daartoe kan lei dat die polisiestasie opgeknap word en meer mens- en slagoffervriendelik gemaak word.
Gemeenskap tree in
Ronald Hacquebord van die Groot-Brakrivier Belastingbetalersvereniging, Lynda Murison, 'n bekende plaaslike kunstenaar en die Advertiser het met die bevelvoerder van die polisiekantoor, kaptein Francois Henzen vergader oor die moontlikheid om die polisiestasie op te knap.
Daar is besluit om te begin met die verfraaiing van die bestaande traumakamer om 'n vriendeliker en kalmerende "veilige plek" vir slagoffers van geweld te skep.
Tydens 'n besoek aan die Groot Brakrivier-polisiestasie het die woordvoerder, sers Lauriane Botha ook die behoefte aan 'n "plek van veiligheid" vir slagoffers van veral huishoudelike geweld geopper.
Plek van Veiligheid
Die Mossel Bay Advertiser is van voorneme om hul Oliver Twist fondsinsamelingsprojek te gebruik om momentum aan die projek te gee. Sersant Botha verduidelik dat daar 'n groot behoefte aan 'n plek van veiligheid in Groot-Brakrivier is.
"Baie keer kom mense in die nag by ons aan en moet dan in die traumakamer oorbly wat nie geskik is vir so iets nie. Ons het ook 'n plek nodig waar kinders wat gemolesteer is, saam met 'n ouer kan bly. Daar sal ook netjiese en skoon wasgeriewe moet wees waar mense wat verkrag is, 'n lekker warm bad kan neem nadat DNA-monsters geneem is."
Die publiek se hulp word gevra met die verskaffing en opknapping van 'n gebou of huis in die Groot-Brakrivieromgewing.
Die Advertiser versoek mense wat wil en kan help om Alet Engelbrecht (083 306 8504), Ronald Hacquebord (083 307 6571) of sers Botha by die Groot Brak-polisiestasie (073 551 7358) te kontak.
Daar word ook beplan om die badkamers en toilette op te knap, die tuine mooi te maak en die vensterrame en mure van die polisiegebou te verf. Hacquebord voel sterk daaroor dat die gemeenskap moet hande vat om die plaaslike polisie te help om hulle geriewe meer mens-vriendelik te maak en sodoende dienslewering verbeter.
Lynda Murison doen opmetings om te kyk waar noodsaaklike meubels en toerusting in die trauma-kamer gaan inpas.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'