Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die veiligheidsprojek van die Mosselbaai-munisipaliteit in samewerking met verskeie rolspelers is reeds die afgelope jare in wording.
Dit bestaan hoofsaaklik uit geslotebaan-televisiekameras wat op strategiese plekke vanaf Danabaai tot by Glentana geïnstalleer word om veiligheid in woonbuurtes te verbeter.
Met die sentrale beheersentrum tans in aanbou, is buurtwagte en verskeie gemeenskappe besig om hul omgewing te beveilig deur kameras te installeer met eie fondse en die van inwoners in daardie gebiede.
Kyk 'n video hieronder:
Onderdorp
Lede van die gemeenskap in Montagu- en Hoogstraat het na vore gekom en besluit om self verantwoordelikheid te neem vir hul veiligheid deur oorhoofse kameras in beide strate op brandpunte te sit.
Dewald Lourens het die fondsinsamelingsprojek vir die kamera in Hoogstraat begin en is vurig deur die inwoners ondersteun. Die projek het vinnig momentum gekry en die inwoners in Montagustraat onder leiding van Michael Sheppard het ook ingespring en fondse begin invorder vir 'n kamera. Die inwoners in Monatgustraat is tans besig om fondse in te samel vir 'n tweede kamera in dié straat.
Die onderdorp-buurtwag versoek lede van die gemeenskap om na vore te kom om die druk op die beperkte ledetal vir patrollies te verlig.
Midbrak
Volgens die voorsitter van die Midbrak-buurtwag, Frikkie Rheeder vorm hulle ook 'n integrale deelnemer aan die veiligheidsprojek. Hulle het reeds 'n aantal kameras wat aktief gebruik word.
Hul gebied strek vanaf Suiderkruis tot by Klein-Brakrivier, en sluit Riverside en die De Lange-uitbreiding in, wat 'n hele aantal kameras vereis. Befondsing is van donateurs afhanklik. Voorsienning word gemaak vir die opgradering van die huidige stelsel om op 'n latere stadium by die groter Mosselbaai-projek in te skakel. Die koste vir die opgradering en die oprigting van die vier ANPR-kameras gedurende fase 1 is ongeveer R145 000. Die totale projekkoste in verskeie fases beloop ongeveer R385 000 wat nog sowat 27 kameras insluit.
"Ten spyte van die beperkinge meegebring deur Covid-19, het ons reeds aan meeste van die inwoners per e-pos en op Whatsapp-groepe ingelig," sê Rheeder.
"'n Dringende beroep word dus aan ons inwoners gerig om 'n finansiële bydrae te lewer om hierdie belangrike sekerheidprojek te voltooi. Ons is bewus dat ons in moeilike tye leef en dat almal dit moeilik vind met finansiële verpligtinge, maar die veiligheid van ons gemeenskap is van kardinale belang," sê Rheeder. Donasies kan in die kollektekassie by die Reebok DIY geplaas word of die buurtwag kan vir bankbesonderhede gekontak word.
Da Nova
Die Da Nova-buurtwag met Jeff van der Merwe as voorsitter, het ook die afgelope week begin met hul eerste kameras by brandpunte in MJ Harrisstraat waar groenstroke maklike toegang en ontsnaproetes gee tot die woonbuurte.
"Ons wil ten minste nog sewe kameras op strategiese plekke oprig veral by die ingange na die buurt en groenstroke," sê Van der Merwe. Soos ander buurtwagte is fondse min en is hulle ook afhanklik van die gemeenskap vir fondse.
Jeff van der Merwe en ondervoorsitter, Roelf Shawinsky. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'