Die tragedie is egter dat hierdie ma van vier steeds gewikkel is in 'n stryd om vas te stel waar Amiera, wat nou ses jaar oud is, haar bevind.
Alaa en Amiera sou ses weke in Egipte kuier, maar sy het gereeld telefonies kontak gehad met haar ma.
Op 7 Julie 2011 kry Kennedine egter die nuus van Alaa dat Amiera blykbaar onder 'n vragmotor beland het en dood is. In reaksie hierop, het hy die vragmotorbestuurder glo tydens 'n konfrontasie met 'n mes doodgesteek en is toe glo in 'n 'tronk' aangehou na afloop van die insident.
Met hulle volgende kontak 'n dag later, moes Kennedine verneem dat Amiera boonop volgens die Moslem-gebruik, reeds begrawe was.
Kennedine was hierna nog in kontak met Alaa, wat haar sy woord gegee het dat hy sou terugkeer na Suid-Afrika met Amiera se doodsertifkaat.
'n Niggie van Kennedine in Nederland, Yvette Boeijenga, het by verdere navraag aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgevind dat hulle Egiptiese eweknieë nie 'n doodsertifikaat vir Amiera kon opspoor nie. Inteendeel, het hulle bevestig dat Amiera Egipte wel binnegegaan het en dit nog nooit verlaat het nie.
Verder is daar uitgevind dat Amiera reeds as Egiptiese burger geregistreer is.
Toe Kennedine Alaa hiermee konfronteer, het hy alle kontak tot hede toe verbreek.
Die lys van plekke waar Kennedine aangeklop het vir hulp is skynbaar eindeloos en meeste van haar navrae loop op 'n dooiepunt uit.
In 'n neutedop, word die onderhandelingsproses om Amiera terug te kry in Suid-Afrika bemoeilik deur die feit dat Egipte nie soos Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Den Haag Konvensie onderteken het nie.
Hierdie verdrag is onder meer in plek gestel om kinders spoedig na hul tuislande te laat terugkeer in gevalle waar die kind wederregtelik deur 'n ander ouer weggevat is.
Regskenners meen dat Kennedine kan probeer om 'n verklarende bevel in 'n Suid-Afrikaanse hof te verkry, wat uitstip dat die kind wederregtelik in Egipte is. Hierna kan sy aansoek doen by 'n geskikte Egiptiese hof om die Suid-Afrikaanse hofbevel afdwingbaar te maak in sy jurisdiksie, sodat Amiera kan terugkom Suid-Afrika toe.
Tot dusver dui alles egter daarop dat Kennedine self haar pad na Egipte sal moet vind, waar sy tot die stryd sal moet toetree om haar kind nie net te probeer terugkry nie, maar ten minste te kan sien.
Intussen het Kennedine se storie in Huisgenoot Kuier (7 Mei) verskyn en op die manier via sosiale netwerke versprei, wat heelwat steun vir haar saak opgelewer het, maar dit bly steeds 'n moeilike regs- en wetlike prosesse wat moeilik in plek gaan val.
Faizel Porter, 'n sosiale aktivis, het plaaslik besluit om Amiera se saak op te neem.
"Juis met die aanvang van Vrouemaand, beplan ons 'n vreedsame optog op Vrydag, 8 Augustus, om die gemeenskap, veral vroue en kinders, bewus te maak van waaksaamheid ten opsigte van kinderontvoering."
Na afloop van die optog, wat ondersteun word deur verskeie plaaslike skole, sal verskeie memorandums oorhandig word aan rolspelers wat 'n bydrae tot die moontlike oplossing van hierdie saak kan lewer.
Diegene wat aan die optog wil deelneem word versoek om pienk te dra.
"Mamma's, beskerm julle kinders en spandeer baie tyd met jou kind. Dieselfde geld vir pa's, want as daar iets gebeur dat jy jou kind verloor, verloor jy die beste jare van hulle en ook jou eie lewe," sê Kennedine.
Vir meer inligting, kontak Faizel Porter by 084 275 9939.

Amiera, kort voor haar verdwyning, besig om 'n roomys te eet by die Punt.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'