GROOT BRAKRIVIER NUUS - 'n Weldoener van Groot-Brakrivier het die 25-jarige Kayla Meyer gehelp om haar droom te bewaarheid deur fondse vir haar studies in te samel.
Kayla het nog altyd daarvan gedroom om 'n versorger te word, maar het nie die nodige fondse gehad om te studeer nie.
Die weldoener, wat verkies om anoniem te bly, het toe op twee plaaslike gemeenskapsgroepe per WhatsApp 'n beroep op inwoners gedoen om fondse vir Kayla bymekaar te maak.
Gou het talle inwoners op Groot-Brakrivier 'n bydrae tot Kayla se studies gelewer en kon sy haar kursus by Ukuphela Training in George begin.
Kayla het steeds by die koffiewinkel van die Spar op Groot Brak gewerk terwyl sy haar studies aangepak het.
Nadat sy haar teorie geslaag het, het Kayla haar prakties vir twee maande by die Groenkloof-versorgingsoord gedoen en dit suksesvol voltooi.
Op 1 Februarie het Kayla se groot dag aangebreek. Sy het haar sertifikaat as versorger ontvang. Kayla is 'n voorbeeld van wat bereik kan word as 'n gemeenskap saamstaan.
"Nou kan ek my droom uitleef. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek kon kry. Hierdie is die begin van nuwe dinge en ek sien uit na die toekoms. Ek kan nie die gemeenskap en die weldoener wat my gehelp het genoeg bedank nie."
Kayla hoop om binnekort 'n werk as versorger te kry.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'