Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Roudiens is gister Donderdag, 17 Augustus, vir die vyf vissermanne van die Dijaanda vissersboot, wat verlede Dinsdag, 8 Augustus, hul lewens verloor het toe dié boot in die vroeë oggendure sowat 5km wes van Gouritsmond teen die rotse geloop het.
Jacob Johannes Kiewiet (63), Jason Rodney Pieterson (26), Wilton van Coller (50) en Angelo Gelderbloem (60) se liggame is die oggend ná die voorval naby die boot deur reddingspanne gevind.
Jacques Jacobs (53) se liggaam was vermis en is op Donderdag, 10 Augustus gevind.
'n Dramatiese reddingspoging deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Stasie 15 op Mosselbaai, die Afrikaanse Maritieme Veiligheidsgesag (SAMVS), Mosselbaai brandweer, buurtwagte, Skymed helikopter, drie visserbote ter see en verskeie ander nooddienste het gevolg toe 'n noodsein Dinsdagoggend, 8 Augustus, om 01:50 deur die Telkom Maritieme Radiodiens ontvang is.
Reddingspanne van die NSRI Mosselbaai en brandweer het om ongeveer 03:00 op die Dijaanda afgekom waar sy in vlakwater op die rotse geloop het.
Die skipper, Wesley Matthee, is tussen die rotse gevind en Pietie Nel wat nog op die boot was, is na veiligheid gebring.
Moeilike tyd
Kerk- en gemeenskapsleiers het saam met die familielede op 15 Augustus saam met die burgemeester, Dirk Kotzé, en munisipale bestuurder, Colin Puren, vergader om te sien hoe die families bygestaan kan word in dié moeilike tyd. Kotzé en Puren het die families verseker dat die munisipaliteit alles van hul kant sal doen om die gesinne by te staan. 'n Bedrag van R1 000 word uit die Burgemeestersfond vir elkeen van die gesinne van die oorledenes bewillig, tesame met 'n kospakkie en bystand met die grafte.
Michael Carelse, voormalige burgemeester van Mosselbaai en nog 'n gemeenskapsleier, Jan Schoeman, het namens die families met Kotzé en Puren gesels. Carelse wat tans by kinderwelsyn werksaam is, het benadruk dat die fondse volgens behoeftes aan die families uitgedeel sal word. Schoeman en Carelse het hulle self getaak met die begrafnisreëling namens die families en terugvoer sal aan die munisipaliteit gegee word.
Roudiens
Die roudiens vir die vyf vissermanne is gisteraand, Donderdag 17 Augustus, by die All Saints kerk in D'Almeida gehou. Daar is 'n fonds gestig om die behoeftige families by te staan met die begrafnisse, waarvan sommige reeds môre sal plaasvind. Meeste van die oorlede vissermanne was die broodwinners van die families. Die gemeenskap word gevra om die gesinne by te staan.
Bankbesonderhede vir fondse/donasies:
- Rek. Naam: Child Welfare Mossel Bay
- Bank: FNB
- Rek.nr: 62549212843
- Takkode: 210314
- Verw: Vissers Rampfonds
Bewys van betaling kan gestuur word na: office.mbaywelfare@gmail.com
Angelo Gelderbloem (60)
Jacques Jacobs (53)
Wilton van Coller (50)
Jacob Johannes Kiewiet (63)
Jason Rodney Pieterson (26)
Kerk- en gemeenskapsleiers saam met die familielede van die oorledenes Dinsdag, 15 Augustus, by die Mosselbaai-munisipaliteit. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikels:
- Roudiens vir gestorwe vissersmanne
- Doodsnag: Vier vissers dood
- Soektog na vermiste visserman duur voort
- 4 dood, een vermis nadat vissersboot op rotse loop
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’