MOSSELBAAI NUUS - Dis weer tyd vir die Garden Route Relay for Life. Die gemeenskap word uitgenooi om deel te neem aan die stryd teen kanker. Die geleentheid word gehou by die D'Almeida-sportgronde op 2 Maart vanaf 16:00 tot 3 Maart om 06:00.
Die Cansa Relay for Life is 'n deurnagbyeenkoms wat uit spanne van 10-15 persone bestaan wat vir 'n tydperk van 24 uur rondom die baan stap.
Tydens hierdie byeenkoms word kankeroorwinnaares en ook die wat die stryd teen die siekte verloor het, gedenk.
Geld word tydens die geleentheid ingesamel om kankeropvoeding te befonds, asook om belangrike dienste moontlik te maak vir pasiënte en hulle families.
Twee hoogtepunte tydens die samekoms is die oorwinnaarsronde, luminariaseremonie (kerse van hoop-seremonie), asook ander aktiwiteite. Elkeen van die seremonies eer diegene wat deur kanker geraak word. Oorlewendes en versorgers word deur middel van spesiale aktiwiteite vereer. Luminaria-sakkies word vooraf of tydens die byeenkoms gekoop teen R10.
Persone wat nie deel is van spanne nie, word versoek om 'n donasie van R20 per volwassene en R10 per kind, R10 per voertuig ten behoewe van kanker te maak wat sal dien as toegangsfooi.
"Neem kennis dat voertuie en persone gevisinteer sal word om te verseker dat geen drank by ons kankerbewusmakingsveldtog toegelaat sal word nie. Kom laat ons, ons inwoners met kanker respekteer, eer en ondersteun."
Verversings sal teen bedrae vanaf R10 en R25 te koop aangebied word tydens die geleentheid.
Vir navrae, skakel Merle Singh (082 467 4413), Michael (079 697 3272) of Julie (073 434 8291).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'