MOSSELBAAI NUUS- 'n Bekende fotograaf en inwoner van Mosselbaai, Danie Pretorius (66) is gister aan kanker oorlede.
Pretorius was 'n uitmuntende fotograaf en het groot bydraes tot die Eden Photographic Society (EPS) gelewer. Hy het ook die Pedigree Auto Tune op Mosselbaai besit.
Die fotografieklub het in 'n verklaring gesê Pretorius se bydraes was onmiskenbaar.
"Jou pad is een wat getuig van groot suksesse in die fotografiese gemeenskap. Daarvan kan jou vele medaljes en verskeie vorms van eerbetoon getuig.
Deur die jare en soos EPS gegroei het, het jy op verskeie geleenthede as fotobeoordelaar opgetree en jou opbouende kommentaar het menigte aspirant-fotograaf geïnspireer om uit te styg in hierdie vaardigheid."
Die verklaring sê voorts: "As daar ‘n medalje was vir humor, en ‘n vermoë om enige persoon te laat lag, vir kunssinnigheid, kreatiwiteit en oorspronklike denke, gaan dit aan jou."
Danie se tegniese kwalifikasies en agtergrond kom van sy kennis van vliegtuie. Volgens sy seuns het Danie van kleins af 'n passie vir vliegtuie gehad. "Hy het vele ander passies gehad, soos houtwerk en fotografie."
Pretorius het talle medaljes vir sy fotografie gewen.
Hy laat vier seuns, Daniel, Derick, Joshua, Brendan en talle geliefdes agter.
Pedigree Auto Tune sal voortgaan met hul dienste.
"Die familie getuig dat tot die einde van sy lewe het hy sy sin vir humor behou.
Die familie het besluit om `n klein intieme byeenkoms te hou ter herdenking van sy lewe en die sterk impak wat hy gehad het.
Sy seuns, Gerda, en Magriet, sy suster, wil graag hul dank betuig met die Mosselbaai gemeenskap vir hulle ondersteuning."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’