MOSSELBAAI NUUS - Die gesprek oor kerkeenheid word môre, Saterdag 30 Junie, voortgesit met 'n boodskap deur pastoor Gordon Claasen vanuit die Kaap.
Hy is die stigter van Cape Table Talk, nou bekend as Perspectives on the Apostolic 'n maandelikse gespreksforum vir kerkleiers om te besin oor God se plan van orde vir sy kerk. Hy gee ook hieroor geestelike leiding aan talle gemeentes landswyd wat fokus op die herstel van God se orde vir die liggaam van Christus.
Die vorige vier gesprekke in Mosselbaai het gefokus op die belangrikheid God se wil vir kerk-eenheid, "Persoonlike verhoudings binne die Liggaam van Christus", "God se voortgang in die herstel van sy liggaam" en die betekenis van die boodskap van Psalm 133 wat handel oor eenheid onder broers en oor die salwing van die Hoof (Christus) wat versprei na die res van die liggaam (ons) tot aan die some van die kleed... die minstes in die liggaam - om die liggaam so te lei tot volwassenheid onder leiding van die Heilige Gees.
Alle gemeenteleiers, ook diegene wat nie die vorige gesprekke bygewoon het nie, word uitgenooi na die byeenkoms môre, Saterdag 30 Junie vanaf 09:00 – 13:15 by die Pentecostal Holiness Church (House of Mercy) op die hoek van Alhofrylaan en Randstraat, D'Almeida, Mosselbaai.
Die inisiatief vir hierdie broederlike gesprekke word steeds geneem deur pastoor Kobus Klaaste wat 'n passie het vir die eenheid van die Liggaam van Christus. "Ons soek nie ons eie eer of wil nie, maar doen dit uit gehoorsaamheid aan God se Woord wat gelowiges herhaaldelik oproep tot eenheid en liefde onder mekaar," sê pastoor Klaaste.
Vir navrae kontak past Pierre (082 773 4910), Kobus (082 968 3674) of Isak (082 5628 928).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'