TUINROETE NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het 'n persverklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle kennis neem van sosialemediaplasings oor ingewandskoors en beweringe dat munisipale kraanwater aanleiding gee tot die verspreiding daarvan.
Die portefeuljevoorsitter van infrastruktuurdienste, rdl Anton Dellemijn sê gereelde toetse verseker dat drinkwater in die groter Mosselbaai aan al die tersaaklike SANS-standaarde voldoen.
Munisipale bestuurder Colin Puren sê daar is tans geen rede tot kommer oor waterveiligheid nie.
"Benewens die toetse deur Mosselbaai-munisipaliteit, is die Garden Route-distriksmunisipaliteit se omgewingsgesondheidspersoneel verantwoordelik vir die roetine-monitering van munisipale watervoorsiening aan gemeenskappe. Dit behels onder meer die neem van roetine-monsters vir aanwyserorganismes.
"Maagkoors kon nie geïsoleer word in die areas waar watermonsters geneem (munisipale bronne en onbehandelde water) en as deel van die ondersoeke by spesifieke laboratoriums geanaliseer is nie. Daarbenewens word geen pasiënte by óf die provinsiale hospitaal, óf die Life Bay View privaathospitaal daarvoor behandel nie. Daar is tans geen rede tot kommer oor waterveiligheid nie."
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit het ook op 22 Februarie 'n persverklaring hieroor uitgereik, lees gerus meer by: https://bit.ly/3JErlly
Hessequa
Hessequa-munisipaliteit het ook na aanleiding van die gerugte oor ingewandskoors in 'n persverklaring genoem dat die water al die dorpe in die streek veilig is.
"Dit word weekliks aan SANAS geakkrediteerde toetse onderwerp. Die neem van monsters en toetsing word uitgevoer deur 'n bekende water- en afvalwater spesialis, wat sertifiseer dat ons aan nasionale vereistes voldoen.
"Alle parameters wat gemeet word, word noukeurig gemonitor en regstellende maatreëls vind plaas wanneer nodig."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'