Munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill sê in 'n mediaverklaring dit het die raad die afgelope seisoen R1.1 mijoen gekos om lewensredders by al Mosselbaai se strande uit te plaas.
"Weens die hoë koste van lewensredders kan ons, met die uitsondering van die vier Blouvlagstrande ongelukkig net gedurende piekvakansietye, soos die afgelope somervakansieseisoen en oor Paasnaweek, lewensredders by strande plaas," het mnr Hill gesê.
Lewensredders sal nog tot 18 Januarie, die einde van die Blouvlagseisoen, by die Blouvlagstrande De Bakke, Klein-Brakrivier, Santos en Hartenbos aan diens wees.
"Daar was tot en met 4 Januarie, wat as die einddatum van die piekseisoen beskou is, by geleentheid tot soveel as 220 lewensredders per dag op meer as 20 strande aan diens. Die munisipaliteit wil beklemtoon dat Diasstrand nie ‘n Blouvlagstrand is nie."
Hy het meegevoel uitspreek teenoor naasbestaandes van die drie kinders en gesê die munisipaliteit betreur die voorval.
"Die munisipaliteit wil weer eens daarop wys dat mense die see op eie risiko betree en dat daar altyd persoonlike risiko’s sal wees. Selfs lewensredders kan nie altyd swemmers se veiligheid verseker nie, soos in hierdie tragiese geval waar die oorledenes oënskynlik in ‘n gevaarlike sleurstroom beland het. ‘n Ernstige beroep word op ouers gedoen om te verseker dat kinders nie die see ingaan sonder die toesig van iemand wat na hul veiligheid kan omsien nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'