MOSSELBAAI NUUS - Volgens 'n polisiewoordvoerder, sersant Kapp, is daar nog geen arrestasies gemaak nadat ses mans op Donderdag, 17 Januarie om ongeveer 23:00 op 'n egpaar in hul sewentigerjare toegeslaan het nie.
Die egpaar was in hul huis in Rooikatstraat, Aalwyndal, toe ses welgeklede mans wat met 'n handwapen gewapen was, hulle in die huis oorval het. Die rowers het egter met klapmusse hul gesigte bedek.
Die eienaar is vir snywonde aan die kop in 'n plaaslike hospitaal behandel terwyl sy eggenote vir wonde aan haar arm en bene behandeling ontvang het.
Die rowers het met verskeie groot televisies, rekenaartoerusting, kontant en juwele ontvlug.
Die ondersoekbeampte is sersant Adele Binneman. Die polisie is tans besig om leidrade op te volg.
Enige persoon met met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Da Gamaskop-polisiestasie kontak (044 606 2200).
Positiewe inligting wat verskaf word sal beloon word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'