MOSSELBAAI NUUS - As jy die ouer van 'n skoolverlater is en jy het vóór die lees van hierdie artikel nie geweet van watter kardinale belang breinontwikkeling voor tweejarige ouderdom is nie, mag jy dalk hierna voel of jy jouself kan skop.
Volgens dr Melodie de Jager, stigter van beide die BabaGim en die Mind Moves Institute, fokus almal op matriek, terwyl die grondslag vir leer en ontwikkeling van geboorte tot driejarige ouderdom gelê word.
Omdat vroeë breinontwikkeling so kern belangrik is, het plaaslike BabaGim-instrukteur Magda Bothma verlede week 'n werksessie aangebied vir almal wat by sentrums en organisasies betrokke is waar met kinders onder hierdie ouderdom gewerk word.
Hieronder was die personeel van verskeie kleuterskole, asook Curro Castle en plaaslike Playball-instrukteurs om 'n paar te noem.
Kinders, veral babas en klein kleuters vind gou aanklank by Magda, voorheen 'n radiografis. Vandaar haar passie vir hulle vroeë ontwikkeling.
Tydens verlede week se werksessie, wat baie prakties en interaktief was, was Magda se oogmerk om die belang van vroeë breinontwikkeling aan soveel moontlik mense oor te dra, ten einde die jongspan beter voor te berei vir die leerervaring wat op hulle wag wanneer hulle formeel begin skoolgaan.
Van die inligting wat Magda gedeel het was eweneens nuus vir die toehoorders.
Sy het die belang van ontwikkelingsmylpale onderstreep en hoe belangrik dit is dat elke mylpaal goed vasgelê moet word.
"'n Spierbeweging moet 50 000 keer geoefen word om behoorlik vasgelê te word. Babas moet byvoorbeeld drie maande kruip voordat hulle hulself moet begin optrek," verduidelik Magda.
Sy het genoem dat babadogtertjies wat nie lank genoeg kruip nie, byvoorbeeld rugprobleme kan manifesteer gedurende swangerskap.
'n Verdere baie insiggewende feit wat Magda gedeel het, is toe sy 'n foto van die breinkonneksies op tweejarige ouderdom en die van die volwasse brein gewys het.
Sy het uitgewys hoe gering die verskil tussen die twee is.
"Dis juis as gevolg hiervan dat breinontwikkeling tot en met 24 maande so kernbelangrik is."
Magda het gesê dat BabaGim 'n "resep vir breinontwikkeling" bied wat kinders kan laat floreer wanneer hulle eendag skool toe gaan.
"Hoe meer mense hierdie boodskap kry en dit kan toepas, hoe beter," meen Magda.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'