MOSSELBAAI NUUS - 'n Video van 'n vermeende plaveiseldief wat vroeër vandeesmaand op sosiale media geplaas is, het die vraag weer eens laat ontstaan oor die bydrae wat hierdie tipe platforms lewer tot misdaadbekamping, al dan nie.
In die video, word getoon hoe 'n verdagte man deur lede van die gemeenskap, vermoedelik betrokkenes by die Gaatjie-buurtwag, voor stok gekry word waar hy met 'n trollie vol plaveiselstene betrap is. Die stene is na bewering verwyder in die omgewing van die D'Almeida-sportgronde en Diaz Primêre Skool.
In die video word ook getoon hoe lede van die gemeenskap die verdagte man aan die polisie oorhandig wat hom dan in 'n vangwa laai.
Die Mossel Bay Advertiser het by navraag verneem dat daar egter nie 'n saak na aanleiding van die voorval gemaak is nie, hoewel die buurtwag se betrokkenheid in die stryd teen misdaad bemoedigend is.
Na regte sou 'n saak van besit van vermoedelik gesteelde eiendom geopen kon word. Dit is 'n welbekende feit dat sosialemediaplatforms 'n groot rol in die kommunikasie onder buurtwaggroepe speel. Daarom word dit aanbeveel om seker te maak van die betroubare oorsprong van nuus, aangesien die verspreiding van vals nuus tot paniek, verwarring, vrees, agressie en wantroue kan lei wat juis verdere kriminaliteit tot gevolg kan hê.
Die departement van gemeenskapsveiligheid, algemeen bekend as DOCS, het in 'n onlangse verklaring wenke versprei oor hoe gemeenskapspolisieforums kan bydra daartoe dat vals nuus nie versprei word nie.
Wenke
- 'n WhatsApp-boodskap wat meer as vyf keer versprei is sal lees "forwarded many times", dus beteken dit dat die outeur nie geïdentifiseer kan word nie.
- Indien die bron of outeur wel bekend is, maak seker of hulle geloofwaardig is. Kyk of 'n logo of aanlynteenwoordigheid bestaan en dus nagegaan kan word om die betroubaarheid van die nuusbron te toets.
- Vra jouself af hoe die boodskap of nuus jou laat voel. Vals nuus is dikwels manipulerend wat mense se emosies en vrees betref. Dit daag ook oortuigings uit en vergroot dikwels bestaande vrese en wantroue.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'