Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ontevrede lede van die publiek het Maandagoggend opnuut hulle misnoë te kenne gegee toe hulle in lang rye by die munisipale lisensiekantoor moes wag.
Sommige het gesê dat dit hul derde keer is wat hulle vir hoe lank wag, net om onverrigter sake huiswaarts te keer.
Op Maandag, 15 Junie was sommige al glo van voor 06:00 in die ry om geholpe te raak.
"Vra vir die kantoorbestuurder hoekom hulle nie oortyd kan werk om die agterstand in te haal nie. Hoekom kan hulle nie van 15:00-17:00 oop wees nie," het een van die wagtende mans aan Mossel Bay Advertiser gesê.
'n Kennisgewing is by die kantore opgeplak wat aandui dat dit 14:00 sluit.
Een van die toustaners het grappenderwys gesê dat hy oorweeg om eerder "sonder sy lisensie te ry".
Kyk 'n video hieronder:
Buitengewone omstandighede
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gese dat hulle kantoorpersoneel, ten spyte van die Covid-19-pandemie te midde van buitengewone werksomstandighede, hulle nietemin verbind tot uitsondelike dienslewering.
"Inwoners is vroeër en by herhaling ingelig dat daar werklik geen rede is om tou te staan vir die hernuwing van lisensies nie aangesien die lisensies ingevolge die rampmaatreëls en verwante regulasies vir geruime tyd geldig sal wees. Ons bedank van harte die inwoners wat desondanks steeds pligsgetrou hul hernuwings wil afhandel, maar vra begrip vir die moeilike omstandighede," het munisipale woordvoerder, Nickey le Roux versoek.
Alle bestuurslisensies, leerlinglisensies, voertuiglisensieskyfies, tydelike rybewyse, tydelike permitte, padwaardigheidsertifikate en professionele bestuurderpermitte wat gedurende die inperking, tussen 26 Maart en 31 Mei verval het, word geldig geag en vir 90 dae verleng vanaf 1 Junie.
"Die reëling is dat die kantore tot 15:00 oop is, maar daar moet ook in ag geneem word dat die gelde wat vir hernuwings gevorder word, daagliks ingevolge wetgewing getel en bankgereed gemaak moet word. Dit moet by die finansies-afdeling besorg word voor 16:00 elke dag. Gevolglik word dit soms genoodsaak om die kantore effe vroeër te sluit om die banksake te hanteer sodat daar nie ‘n negatiewe rippel-effek ontstaan nie," het Le Roux verduidelik.
Sy het ook gesê dat die munisipale hoofgebou, waar die finansies-afdeling gesetel is, asook ander kantore weens Covid-19 op Maandag, 15 Junie gesluit moes word. "Dit is dus te verstane dat die kontantsale van die ander afdelings kortstondig beïnvloed sou word aangesien ander reëlings inderhaas getref moes word vir die anders as normale omstandighede."
Aanlyn
Die publiek kan aanlyn aansoek doen om hernuwings.
• Besoek online.natis.gov.za.
• Registreer op die webwerf.
• Laai die hernuwingskennisgewing af.
Bankbesonderhede
• Nedbank
• Mosselbaai Munisipaliteit
• Rekeningnommer: 1134644809
• Takkode: 198765
• Munisipale verwysing: 990000510011
Bewys van betaling, kennisgewing van hernuwing en die identiteitsdokument van die eienaar moet gestuur word aan admin@mosselbay.gov.za.
Die lisensiedokument sal per pos na die adres van die voertuigeienaar op die NaTIS-stelsel gestuur word.
Bogenoemde proses is egter afhanklik van die RMTCC se stelsels.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'