Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n nuwe inisiatief van die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum (GPF) en die onderskeie buurtwagte, is leerders van skole in die omgewing Woensdagoggend voor skool van fluitjies voorsien as teenvoeter vir misdaad. Die leerders het ook liniale ontvang waarop noodnommers prominent verskyn.
"Die oogmerk is om seker te maak dat veral jong leerders hulp kan ontbied wanneer hulle self in gevaar verkeer, of wanneer hulle iets verdag opmerk en ander se aandag wil trek.
Dit gebeur gereeld dat vandag se jongklomp se aandag deur hulle selfone afgetrek word wanneer hulle skool toe loop. Juis dan is hulle sagte teikens vir opportunistiese misdadigers wat hulle teiken om selfone en ander waardevolle items van hulle te roof. Deur hard op die fluitjies te blaas, trek die jongmense ander se aandag, iets wat 'n misdadiger ten alle koste wil vermy," sê Martie Loubser, voorsitter van die Onderdorp-buurtwag.
Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé het die inisiatief ondersteun en self 'n paar fluitjies uitgedeel. Hy het 'n beroep op ouers gedoen om hul kinders aan te moedig om die fluitjies byderhand te hou en te gebruik.
"As almal saamwerk, en veral as die gemeenskap daarop ag slaan wanneer hulle fluitjies hoor, kan hierdie projek 'n wesenlike impak op die voorkoming van veral opportunistiese misdadigheid hê."
In Tarka het raadslid Marilyn Kannemeyer ook die inisiatief ondersteun deur die buurtwaglede by te staan en fluitjies uit te deel.
Liniale
"Hou hierdie liniaal in jou boekesak. Selfs al sou jou selfoon gebuit word, het jy steeds die kontaknommer byderhand om hulp te ontbied, selfs al moet jy 'n vriend se foon gebruik."
Die fluitjies is veral handig om in geval van nood gebruik te word om die aandag te trek, nie net waar dit kom by misdaad nie, maar ook wanneer die hulp benodig sou word. Loubser het die jongklomp ook aangemoedig om die fluitjies te gebruik wanneer hulle iets verdag opmerk.
Die Hoërskool Punt-leerders het aanvanklik verras reageer, maar almal aan wie fluitjies uitgedeel is het entoesiasties gesê hulle sal wel die fluitjies gebruik.
Die Mosselbaai GPF, personeel van Mosselbaai-polisie, die buurtwagte van Heiderand, Onderdorp en Tarka, die SAPS Victim Friendly Volunteers, Amanda Shelver, Colleen Chippe, Megan Domburg, ao Amanda Lordan, Mosselbaai-polisiestasie se bevelvoerder kapt September, Petro Plato, Elmarie Landman, Deidre Swanepoel, raadslid Marilyn Kannemeyer, Martie Loubser, Paul Marree, Marieth Germishuys, Taylor Shelver, Yolande Heyneke, Daleen Pedro, Jay Pillay en Nathan Pillay, is deur onderburgemeester Dirk Kotzé ondersteun tydens hul uitreik na die dorp se jeug.
Die fluitjies kan met nuttig deur ander lede van die gemeenskap in die stryd teen misdaad aangewend word, en belangstellendes word genooi om Martie Loubser (071 514 4501) te kontak.
Ook leerders op pad na Hillcrest Sekondêre Skool en Hoërskool Sao Bras is op Louis Fourieweg van fluitjies en liniale voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'