MOSSELBAAI NUUS - Dis nie aldag dat 'n liefde vir die wiskunde-klas daartoe lei dat iemand 'n belowende filmmaker word nie, maar ten minste bewys dit weer eens dat daar altyd 'n uitsondering op die reël kan wees. Soos in Duncan Steuderst, 'n oud-leerder van Hoërskool Punt se geval.
Dié jong man, tans 'n finalejaarstudent aan AFDA-filmskool, se eerste kortfilm is gekies vir die internasionale filmfees in Seoul, Korea wat in September gehou word.
Sy kortfilm, Greg wat handel oor 'n onwillige superheld wat sy gawes wegsteek om deur die samelewing aanvaar te word, is deur AFDA gekies as een van die films om die skool op die internasionale platform te verteenwoordig. Die geselekteerde films is na die Suid-Afrikaanse ambassade gestuur waar die verdere besluit oor watter flieks die land sal verteenwoordig, geneem is.
Ander films wat tydens hierdie ronde gekies is, is The Wound en Wonderlus, vervaardig deur ervare name in die filmindustrie. The Wound is ook ingeskryf vir die Academy Awards.
Die Seoul Internasionale Filmfees is vanjaar 20 jaar oud. Dit word gereken as een van die grootste feeste in Korea en bring mense van regoor die wêreld byeen om kuns en rolprentvervaardiging te vier. Boonop word al die Suid-Afrikaanse films op 24 September by die fees vertoon. Aangesien dit Erfenisdag in Suid-Afrika is, het die feesorganiseerders besluit om dit 'n braaidag te maak.
Sy hoop is om aan te hou films maak en die stories na aan sy hart te ontwikkel. "Ek wil dalk ook 'n bietjie rondspeel met Afrikaanse kinderanimasie en -verhale."
Die Mossel Bay Advertiser het met hierdie belowende jong filmmaker gesels.
1. Waar het jou belangstelling in film vandaan gekom?
Film was nog altyd in die agterkant van my kop. Van my vroegste herrineringe as ‘n kind kom van films af. Mense na wie ek vandag nog na opkyk, soos James Cameron en Quentin Tarantino, het ‘n baie belangrike rol gespeel in my vorming. Maar ek was altyd afgelei deur goed soos sport, baie ekstra wiskundeklasse. En om onderwysers tevrede hou omdat ek die idee gehad het dat as ‘n Afrikaanse seun is die kuns van rolprentvervaardiging nie ‘n opsie nie. Jy word of ‘n ingenieur of ‘n rekenmeester. Deur die jare rondspringery tussen sport en beroepskeuses, het my liefde vir kuns gebly. In matriek het ek besluit om inisiatief te neem en te vergeet van wat ander mense van my verwag.
2. Het jy op skool al "moewies" gemaak?
Ek was altyd mal oor die wiskundeklas, maar nie noodwendig vir die regte redes nie. My wiskunde-onderwyserres was toevallig ook in beheer van bemarking aan laerskole. Ek was in graad 9 gewees toe sy my vra om vir haar ‘n kortfilm te maak wat die skool kan bemark. So wanneer ek wiskunde gehad het, kon ek rondloop, die skool afneem, en stories wat ek self wou vertel saam met vriende skiet gedurende klastyd. Dit het ‘n jaarlikseinstelling geword, en was sonder ‘n
twyfel my gunsteling deel van hoërskool. Dit het veroorsaak dat ek vir baie ekstra wiskundeklasse moes loop om by te bly met die res van die klas.
3. Vertel ons van jou projek?
By AFDA, waar ek tans studeer, is die grootste projek wat jy aanpak in jou "experimental project". Enigiemand wat al ‘n eksperiementele film gekyk het sal weet dit is gewoontlik baie abstrak, donker, en nie altyd die maklikste films om stil te sit en te kyk nie. Daar is gewoontlik geen dialoog nie en die films is swart en wit. Dit voel asof jy gewoontlik ‘n groot leemte in jou het nadat jy een gekyk het.
Daar was net een ding vir ons as ‘n filmspan om te doen in die wye veld van die "experimental genre". Met ander woorde - kom ons maak ‘n "paletreiniger"om die ligtoring te wees binne ‘n oorvloed van donker en somber films.
Superheroes was ‘n baie groot deel van my kinderdae. So om te sien hoe ouens soos Disney en Marvel tot en met twee superhero films per jaar maak, aanhou geld maak en nooit uit idees hardloop nie, is baie indrukwekend vir my as ‘n aanhanger van die genre. Dit het ons gebring tot by ons komedie Greg, ‘n oorspronklike konsep. Greg is ‘n superhero wat van buite af lyk of hy alles het. Hy is sterk, kan vlieg en die ruimte rondom hom manipuleer. Daar's net een ding wat Greg pla - hy wil nie ‘n superhero wees nie. Die wêreld vrees hom omdat hy anders is. Om aanvaarding te kry van die res van die wêreld. besluit Greg om sy powers agter te laat en ‘n rekenmeester te word. Die film is geskiet in die formaat van ‘n dokumentêre span wat Greg se bewegings volg en monitor. Daar verskyn selfs ‘n advertensie wat ons self ontwikkel en geskiet het in die middel van die film. Die film net sowel ‘n realiteitsprogram gewees het.
Die film was volledig ontwikkel, geskiet en aanmekaargesit in vyf maande.
4. Wat was jou grootste uitdaging tydens jou filmmakery?
Die grootste uitdaging is maar finansies. Partykeer is dit beter om beperkings te hê. Dit plaas druk op jou om 'n oplossing daarvoor te vind. ‘n Voorbeeld hiervan is die advertensie in Greg. Vir die toneel het ons een persoon nodig gehad wat twee keer binne dieselfde skoot moes verskyn. Ons het besluit om ‘n identiese tweeling aan te stel, maar dis nie so maklik nie. Na so paar slapelose nagte, het ons afgekom op die perfekte paar.
5. Watter temas spreek tot jou?
Wat Greg so populêr gemaak het, is die wye tematiese implikasies wat die film gehad het. Elkeen wat dit gesien het, het 'n ander boodskap daaruit geneem. Greg is nie net ‘n kykie op hoe gevaarlik dit kan wees om aanvaarding te soek by die verkeerde mense nie, maar ook ‘n van hoe gevaarlik selfaanvaarding kan wees, ‘n kontroversiële gedagte. Media en film is baie lief daarvoor om te predik dat jy perfek is net soos jy is. Alhoewel dit soort van waar is, beteken dit nie
dat jy tevrede moet wees met wie jy tans is nie. Visualiseer eerder die beste weergawe van jouself., al neem dit 10 jaar om daarby uit te kom. En oor 10 jaar, vat dit nog ‘n stap verder. Konstante groei en verbetering is deel van lewe.
6. Wat geniet jy die meeste van die filmbedryf?
Die mense waarmee jy op ‘n daaglikse basis te doen kry en die gratis spyseniering op stel. Dis 'n spanpoging. Sommige films kan soms tot en met 3000 werknemers hê aan ‘n enkele projek. Daar is soveel verskillende kreatiewe en emosionele insette van verskillende mense tydens‘n projek, maar dit vertel een storie, asof dit een persoon se stem is.
7. Vertel van die filmfees.
Greg is gekies deur AFDA Kaapstad as een van die films om ingeskryf te word by die Seoul International Film Festival. Films is toe na die Suid Afrikaanse ambassade gestuur waar hulle dan die besluit moes neem watter films die land moet verteenwoordig. Ander films wat gekies is sluit in Wonderlus en The Wound -films met baie groot en ervare name in die industrie. The Wound was Suid Afrika se keuse was vir die 90ste Academy Awards in die afdeling vir buitelandse films.
Die Seoul International Festival is 20 jaar oud vanjaar. Dit is een van die grootste feeste in Korea. Tydens die fees word die Suid Afrikaanse projekte op dieselfde dag vertoon - 24 September. Aangesien dit Erfenisdag is, het organiseerders besluit om dit ‘n braaidag te maak.
8. Waar sien jy jouself in vyf jaar?
Vyf jaar gelede sou ek nooit raai dat ek ‘n kortfilm wat ek self geproduseer het in Korea sal premiere nie. Ek mag dalk ver weg wees daarvan om myself enigsins te vergelyk met filmlegendes soos Denis Villeneuve of Guillermo del Toro, maar vyf jaar gelede sou ek dieselfde gesê het oor die geleenthede wat ek nou voor my het. Vyf jaar gelede sou Greg net soos ‘n droom geklink het. Wie weet waar ek ook vyf jaar gaan wees. Dis verseker ‘n groot raaisel. My hoop is om aan te
hou films produseer, stories na aan my hart te ontwikkel, en om ook dalk bietjie rond te speel met Afrikaanse kinderanimasie en -verhale.
9. Wat dink jy van die Suid-Afrikaanse filmbedryf?
Ek glo dat die Suid Afrikaanse rolprentbedryf het ‘n nood vir stemme en stories van alle kante van die reënboog. Ons land is so ryk aan diversiteit en kultuur, geen ander nasie kom naby nie. Daar is soveel stories om te vertel. Die geleenthede is net beperk. Dis verseker nou nie Hollywood of Bollywood in terme van glamour en geld nie, maar daar is ‘n vlak van persoonlikheid en omgee vir mede-kunstenaars in die industrie waarvan jy nêrens in die wêreld hoor nie.
10. En raad vir voornemende filmmakers?
Speel, eksperimenteer, probeer, probeer, en probeer weer totdat jy dit maak werk. Moenie bang wees om risikos te vat nie en moenie jou selfvertroue by die huis
vergeet nie. Los jou ego. Lewe met selfvertroue. Jy kan net misluk as jou tou opgooi. Ons het 'n verantwoordelikheid om ons kulture te bewaar. Die stories wat ons vertel is ‘n vertaling van wat ons voor staan. Dis belangrik om kunstenaars te ondersteun, maar nog belangriker om jong kunstenaars te motiveer om hulle stemme te laat hoor.
Klik hier vir die lokprent of die volle kortfliek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'