MOSSELBAAI NUUS - Fietsryers moet die snelweë vermy aangesien dit onwettig is om daar te ry. Hierdie reël geld ook in die Suid-Kaap waar die enigste deurpad die N2 tussen Danabaaibrug en George is.
Versoeke van fietsryers vir toestemming om N2 te gebruik terwyl die bouwerk aan die R102 voortduur, is deur die Wes-Kaapse provinsiale departement van vervoer en openbare werke afgekeur.
Wetstoepassers wys fietsryers vriendelik daarop dat wetgewing wat fietsryers op snelweë verbied vanaf Donderdag, 13 Desember streng toegepas sal word. 'n Beroep is ook op fietsryers gedoen om die groter verkeersvolumes op paaie in ag te neem en besige paaie ter wille van hul eie veiligheid met die grootste omsigtigheid te gebruik.
"Beide die Nasionale Padverkeerswet en die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Padverkeer reguleer die regte en verpligtinge van fietsryers en die bestuurders van voertuie op paaie," sê die hoof van provinsiale verkeer in Mosselbaai, Reinet Sarikakis.
Sy maan fietsryers om bedagsaam te wees en nie langs mekaar ry nie. Persone wat padfietse ry op 'n openbare pad moet agter mekaar ry tensy een fietsryer 'n ander verbysteek. Twee of meer fietsryers mag ook nie tegelyk 'n ander voertuig verbysteek nie.
Veilige afstand
Die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Padverkeer van November 2012 vereis dat alle voertuie wat fietsryers wil verbysteek, minstens 'n veilige afstand van 1.5 meter tussen hulle handhaaf, en wetstoepassing word voorgeskryf teen fietsryers wat nie in enkelgelid ry nie, of wat versuim om by rooi verkeersligte of stopstrate te stop.
Sarikakis maan fietsryers ook dat die wet vereis dat hulle met 'n valhelm moet ry, veral om ernstige kopbeserings in geval van ongelukke te voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'