MOSSELBAAI NUUS - Volgens Jakkie van der Colff, 'n 77-jarige wat tans per fiets op reis is na die Taalmonument in Paarl, het elke mens drie goed tot sy of haar beskikking om tot ander se voordeel aan te wend. Tyd, talent en geld.
"'n Mens kan een of meer hiervan inspan vir ander, veral wanneer hulle dit nie self kan doen nie."
Jakkie het sy swerftog in Pretoria by die Voortrekkermonument begin en dit, ten bate van die Voortrekkerbeweging. "Ek het tyd en ek het besluit om dit vir die Voortrekkers te gee."
Hy vertel dat hy begin fietsy het om geestelik en liggaamlik gesond te bly. 'n Vriend het hom uitgedaag om sy tog te onderneem en dit ten bate van die Voortrekkerbeweging.
Jakkie het beslis ook nie net op die reguit pad en met die maklike roete langs gehou nie. Deel van sy uitdaging was om op sy roete by soveel dorpe moontlik aan te doen waar daar 'n gevestigde Voortrekkerbeweging is. Sy pad het egter ook 'n paar ander ompaaie ingesluit vanweë protesoptredes en 'n vragmotor wat in 'n bergpas waar hy deur is, uitgebrand het.
Hierdie fikse man het tydens die stigtersver-gadering van die FAK Kultuurnetwerk op Dinsdag, 10 September by die kantoor van die Mossel Bay Advertiser ingeloer en 'n paar van sy wedervaringe vertel.
Hy het ook Woensdagoggend 'n praatjie gelewer by die Hartenbos-museum waar hy sakelui toegespreek het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'