HARTENBOS NUUS - Dit is al hoe meer ooglopend, dat gemeenskappe nodig het om om te sien na mekaar, veral in die geval van ouerwordende lede. Familielede van Hartenbossers Sias en Heleen Coetsee het só 'n inisiatief begin op Soutpan, tussen Bloemfontein en Bultfontein.
Hier het hulle ou skoolgeboue opgekoop en dit omskep in 'n tehuis vir bejaardes. Die tehuis sien om na senior burgers wat slegs aangewese is op staatspensioen.
Ten einde die tehuis se fondse aan te vul om noodsaaklike dienste volhoubaar aan die inwoners te bied, hou Saltitrack MTB die afgelope sewe jaar 'n fietswedren ten bate van Soutpan Siesta.
Omdat dit elke jaar so 'n groot sukses is, het hulle vanjaar besluit om dit 'n avontuurtoer te maak met die naam Siesta2Sea.
'n Groep van vier fietsryers en hulle ondersteuningspan ry dus vanuit Soutpan in die Vrystaat tot in Hartenbos as deel van vanjaar se fondswerwingspoging. Die groep beplan om Sondag, 24 Maart in Mosselbaai aan te kom.
Enige persoon wat graag vanaf De Rust saam met die groep tot in Hartenbos sal wil ry, kontak Sue (083 256 3829).
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'