MOSSELBAAI NUUS - Elke jaar word die immergewilde, gratis kultuurfees op Mosselbaai net beter.
Vanjaar was feesgangers dit eens dat die nuwe formaat van die Dias- & Portfees bygedra het tot wat allerweë beskou word as die beste fees tot nog toe.
Die fees het sy doelstelling om kulture bymekaar te bring, volmaak volvoer.
Nie net kon feesgangers hul verlustig aan die beste vertonings wat die internasionale kultuurgroepe kon opdis nie, maar plaaslike en nasionale kunstenaars het vertonings van uitstaande formaat gelewer.
Met die toevoeging van die fasiliteite by die Mosselbaai-hawe, het die feesterrein nie net verdubbel nie, maar is daar op twee verhoë ook aan plaaslike talent groter geleentheid gebied om hul ondersteuners te beïndruk.
Die program het van verskeidenheid gespreek.
Daar was vir alle ouderdomsgroepe en belangstellings voorsiening gemaak.
Een van die mees indrukwekkende oomblikke van die fees was egter toe die reuse SA-landsvlag as deel van die vlagspronge op Santosstrand neergedaal het.
Tekenend van die omvang van die fees, het mense na hul asems gesnak toe die reusevlag die valskermspringer verdwerg terwyl dit stadig op die strand neersak.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die Mosselbaai, Tuinroete nuus'