MOSSELBAAI NUUS - Arno Jordaan is nie vir die Dias & Portfees of sy Mosselbaaise aanhangers verlore nie, berig die promotor, Eduard Hugo.
Hy sê Jordaan het hom Dinsdag gekontak en gesê hy het 'n opbouende gesprek met die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee gehad en dat hy op grond daarvan graag weer by die fees en by Mosselbaai betrokke sal wil wees.
Hy het kommentaar gelewer op die sosiale media-herrie wat losgebars het nadat die Springbok-skrumskakel, Faf de Klerk tydens die fees gevra is om die onthaalarea vir belangrike gaste te verlaat.
Veiligheid
"Die teenwoordigheid van die Wes-Kaapse povinsiale kabinetslede en internasionale gaste soos die konsuls-generaal van die deelnemende lande het volgens nasionale protokol vereis dat veiligheid by die Dias- & Portfees se feesterrein, veral die onthaalarea vir belangrike gaste, vanjaar aansienlik opgeskerp is," sê adv Thys Giliomee.
Die onthaalarea was ingerig as 'n gekontroleerde omgewing waar die kabinetslede, internasionale gaste, raadslede en verteenwoordigers van die fees se borge kon skakel. Dit is gebruiklik by alle groot feeste om fasiliteite van hierdie aard beskikbaar te stel.
Onberispelik
"Ek wil dit duidelik stel dat Faf de Klerk se gedrag deurentyd onberispelik was. Enige kommentaar of bespiegeling tot die teendeel is aanvegbaar. Faf is versoek om die onthaalarea te verlaat omdat sy naam nie op die lys van uitgenooide gaste was nie. Selfs gaste van raadslede en plaaslike kunstenaars is om dieselfde rede ook gevra om die area te verlaat. Dit was belangrik om konsekwent op te tree," aldus adv Giliomee.
Reputasieskade
Hy benadruk dat De Klerk ná die voorval op sy versoek die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal - 'n rugbylegende in eie reg - ontmoet het. "Burgemeester Levendal het Faf genooi om die Sportfees later vanjaar by te woon."
Die reputasieskade wat die insident vir De Klerk tot gevolg gehad het, word allerweë betreur. Die insident is skynbaar deur Jordaan, wat na bewering De Klerk genooi het om by hom in die onthaalarea aan te sluit, rugbaar gemaak, waarna op sosiale media daaroor gegons is.
"Dit is gebruiklik vir gaskunstenaars om voor vertonings nie met die publiek te skakel nie, maar ná hul optredes hul musiek te bemark en foto's saam met hul aanhangers te neem. Die gaskunstenaars was welkom om die onthaalarea te gebruik, maar hierdie uitnodiging was origens net op die kunstenaar van toepassing," bevestig adv Giliomee.
Hoewel Jordaan gereël het vir addisionele gaste vir die onthaalarea en armbandjies daarvoor ontvang het, is nooit laat blyk wie sy gaste sou wees nie. De Klerk het nie ten tye van die voorval die armbandjie gedra wat hom toegang tot die area sou verseker nie.
"Dit is opmerklik dat die dagblaaie wat oor hierdie insident berig het, geen dekking gegee het nie aan die sukses van hierdie inklusiewe fees wat juis bestem is om kulture met mekaar te laat skakel."
Hoogste lof
Advokaat Giliomee sê hy het persoonlik beide De Klerk en Jordaan om verskoning gevra.
Hugo sê al die kunstenaars vir wie hy as promotor opgetree het, het die hoogste lof vir die professionaliteit waarmee die fees gereël is. "Selfs die reën het die kunstenaars nie afgeskrik nie. Almal het uiteindelik opgetree, hoewel hul verhoogtyd effens ingekort is. Al die kunstenaars het die fees baie geniet."
Faf de Klerk, tweede van links, saam met Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en die portefeuljevoorsitter vir tegniese dienste en veiligheid, raadslid Anton Dellemijn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'