MOSSELBAAI NUUS - Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het onlangs die area waar onbeheerste vullisstorting 'n informele nedersetting omsoom, besoek.
"Die erns van die probleem en die impak op die omgewing en gesondheidsgevare kan nie onderskat word nie.
"Dit moet in gedagte gehou word dat die mense die privaatgrond onwettig beset.
"Die plaaslike owerheid mag regtens geen munisipale dienste op privaateiendom lewer nie.
"Die besetting van die munisipale grond direk naasliggend aan die privaateiendom is ook onwettig.
"Formele vullisverwydering kan nie gelewer word nie, onder meer weens die ontoeganklikheid van die area vir vullisverwyderingsvoertuie."
Mosselbaai munisipaliteit het jare gelede reeds formele steen-en-sement vulliskampe opgerig en inwoners is versoek om alle vullis en swart vullissakke, wat gratis voorsien word, in hierdie kampe te plaas.
Hierdie kampe word gereeld gediens en die gemeenskap word gereeld van gratis swart sakke vir die ordelike verwydering van vullis voorsien.
Die tendens is dat die informele nedersettings se erfies netjies en vry van vullis gehou word.
Die swart en selfs blou vullissakke word egter nie na die vulliskampe geneem nie, maar in die klowe en op oop ruimtes gestort.
"Die burgemeester het my as munisipale bestuurder versoek om 'n plan van aksie van stapel te stuur om die probleem aan te spreek, om oplossings te vind en te verseker dat 'n herhaling van die probleem voorkom kan word.
Die uitvoerende bestuurder in my kantoor, mnr Colin Puren, het reeds vergaderings belê met die relevante personeel en 'n aksieplan sal volg om te verseker dat die vullis nie weer so ophoop nie.
In hierdie verband sal die betrokke wyksraadslede en wykskomitees ook betrek word," berig adv Giliomee.
'n Dringende beroep word op die gemeenskap vir hul samewerking gedoen om te verhoed dat vullis gestort word op plekke waar dit vir ander 'n oorlas skep.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'