Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Suzette Brown wat na 35-jaar van toegewyde diens aan die Mosselbaai-munisipaliteit einde vandeesmaand die tuig neerlê, was een van tientalle personeel wat op Donderdag, 12 Desember vir hul lang en toegewyde diens vereer is. Brown is verbonde aan die munisipale bestuurder se kantoor en werksaam by die Thusong-sentrum.
"Die Mosselbaai-munisipaliteit is baie gelukkig om personeel te hê wie se jarelange toewyding, harde werk en lojaliteit hulle nie net die respek van hul werkgewer verdien het nie, maar ook dié van die gemeenskap wat hulle dien," het die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal tydens die geleentheid gesê.
Fotogalery: Langdiens erkenning
Trouens, die personeel het gesamentlik meer as 1 000 jaar afgelê in diens van die groter Mosselbaai-gemeenskap.
Die burgemeester het ook hulde gebring aan die familie van die werknemers vir hul volgehoue ondersteuning aan die personeel en munisipaliteit.
"Julle ouer garde beskik oor die insitusionele kennis wat van onskatbare waarde is, julle het gehelp vorm aan die tradisies, werkswyse en prosedures wat van Mosselbaai die beste munisipaliteit in die land maak.
Julle is rolmodelle en moet seker maak dat diegene wat in jul voetspore volg, na jul hand geleer word.
Want wanneer iemand na jou hand geleer word, het jy as leier daarin geslaag om jou kennis, ervaring en vernuf na behore oor te dra na die volgende generasie," het raadsheer Levendal gesê.
Die burgemeester het die familie bedank vir hul verdraagsaamheid en ondersteuning aan die amptenare wat in diens van die gemeenskap soms gevra word om die tweede myl te loop, en dit telkens met oorgawe doen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'