MOSSELBAAI NUUS - Tydens die pas afgelope jaarlikse terugvoervergadering van die Danabaai-buurtwag het dit weer eens geblyk watter reuse-bydrae 'n handjievol toegewyde buurtwaglede lewer om die area te beveilig.
Inwoners is weer eens uitgenooi om aktiewe lede van die buurtwag te word. Danabaai se buurtwag, anders as enige ander buurtwaggroep in Mosselbaai is die afgelope paar maande telkens voor besondere uitdagings gestel weens herhaalde onluste wat die area van die res van die samelewing afgesluit het. Hoewel ander buurtwagte handbygesit het, het die onus op Danabaai se buurtwag berus om toegange te beveilig en inwoners se vrese oor hul veiligheid te hanteer.
In hierdie opsig, sê die buurwagvoorsitter, Otto Ploog, is waardevolle lesse geleer en vaardighede opgeskerp.
Ploog het ook 'n beroep op inwoners gedoen om ter wille van hul eie veiligheid en die algemene bekamping van misdaad in die area meer bedag te wees op alledaagse optrede. Hy het verskeie wenke gegee, onder meer;
- Moenie swartsakke op straat sit dae voordat dit op 'n Vrydagoggend verwyder word nie. Swartsakke lok sakkrappers en 'n onnodige toeloop van mense tot die area. Deur swart sakke vroeg op 'n Vrydagoggend uit te sit, kan dié probleem grootliks hokgeslaan word.
- Moenie sondermeer huishoudelike apparaat of toebehore aan stukwerkers gee nie. Indien toerusting weggegee word, moet 'n briefie met kontakbesonderhede die skenking vergesel sodat die buurtwag, indien nodig, kan bevestig dat items wel weggegee is.
- Hou buitegeboue en motorhuise met 'n straataansig se deure toe, selfs wanneer dit net vir 'n oomblik onbeman gelaat word. Tot 90% van misdaad in die area kan aan opportunisme toegeskryf word.
- Waak daarteen om waardevolle items sonder toesig te laat. Kinders se fietse, waardevolle gereedskap wat buite gelaat word en dies meer lok opportuniste.
- Die buurtwag doen 'n beroep op eienaars en okkupeerders om te verseker dat die huis se nommer duidelik sigbaar is. Huise sonder sigbare nommers, veral saans, bemoeilik dit vir buurtwaglede om op probleme te reageer.
- Die buurtwag merk ook dat sensorligte wat buite aangebring word, 'n wesentlike impak op misdaadtendense het en versoek inwoners om, waar moontlik dit by eiendomme aan te bring.
- Inwoners wat hulp van die buurtwag verlang, word versoek om liefs die noodnommer (079 414 0481), en nie die algemene WhatsAppgroepe te gebruik nie. Inwoners is ook gevra om nie persoonlike besonderhede soos addresse en kontaknommers op die algemene WhatsApp-groepe deur te gee nie, maar liefs op 079 414 0481 deur te gee.
Die Danabaai-buurtwag het onlangs 'n bankrekening geskep waar vrywillige bydraes inbetaal kan word. Kontak die buurtwag vir meer besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'