Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Honde se liefde is onvoorwaardelik. Daarvan kan 'n inwoner op Danabaai, Michéle Fenn getuig nadat 'n Duitse herdershond oor wie sy haar aanvanklik slegs tydelik ontferm het, in die middernagtelike ure oor 'n palisadeheining gespring het om met haar herenig te word.
Inwoners het goed kopgekrap oor waar die hond, wat sedert 7 Julie gereeld verwese in Malvaweg, Danabaai rondgedwaal het, vandaan kom.
Sommige het beweer dat hy in die verlede saam met sy bejaarde eienaar gesien is wanneer hulle gaan stap het. Inwoners het bespiegel of die hond se eienaar nie dalk verhuis het of selfs oorlede is nie.
Verlede week was daar steeds geen taal of tyding ontvang oor wie die hond se eienaar is nie.
Die Danabaai-buurtwag het hulle toe oor hom ontferm. Die buurtwag het verskeie kere saam met Michéle en die hond, wat intussen Archie gedoop is, gaan stap in die hoop om sy eienaar op te spoor.
Archie, kort nadat die Danabaai-buurtwag hulle oor hom ontferm het.
Michéle wat reeds 'n aanneemhond, Bella het, het Archie met liefde versorg, maar het nie juis beplan om nog 'n hond aan te skaf nie. Sy was wel bereid om tydelik vir hom 'n tuiste te bied.
Intussen is hy na die plaaslike veearts geneem waar hy ondersoek is. Volgens die veearts is Archie ongeveer agt jaar oud. Hy was ondergewig, maar is andersins in 'n goeie kondisie.
Kyk 'n video hieronder:
Op Dinsdag, 20 Julie het Michéle die hond finaal gegroet nadat 'n ander inwoner aangebied het om hom permanent te huisves. Sesuur daardie aand het sy met trane in haar oë van haar Archie afskeid geneem.
"Ek was hartseer, want hy het diep in my hart gekruip. Hy is so liefdevol en wou heeltyd by my wees."
Op Woensdagoggend, 21 Julie omstreeks 01:00 het Michéle van 'n geraas by haar sekuriteitshek wakker geword .
"Toe ek die deur oopmaak, het Archie voor die hek gesit. Dit was 'n teken vir my dat hy my gekies het. Hoe hy oor ons palisade-heining gekom het weet nugter."
Michéle het dit as 'n teken dat hulle moes herenig beskou. Sy kook nou daagliks vir Archie hoender en rys en gee vir hom net liefde. "Sy laaste goue jare sal die beste jare van sy lewe wees," sê sy terwyl sy liefdevol oor sy kop vryf.
Intussen moet sy nuwe "sussie", Bella nog daaraan gewoond raak om haar mens-mamma te deel. "Sy is nog bietjie jaloers, maar dit gaan verder baie goed met beide van hulle."
Michéle Fenn het Archie voor hierdie sekuriteitshek aangetref.
Archie en sy nuwe "sussie" Bella saam met hulle mensmamma. Bella is nog soms jaloers om haar ma met Archie te deel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'