MOSSELBAAI NUUS - Danabaai-buurtwag nooi senior burgers uit wat alleen bly of in gevalle waar albei van die persone wat in die huis bly mediese kondisies het, om 'n ekstra diens van hulle te ontvang.
Die buurtwag ondervind vanaf Desember 2020 dat baie van die seniors alleen bly en niemand het wat gou genoeg kan agterkom as iets met hulle gebeur het nie.
Die buurtwag gaan dus nou 'n databasis opstel en 'n inkloksisteem in plek stel om ten minste twee keer per dag deur middel van 'n boodskap seker te maak alles is nog by Danabaai se seniors in orde. Indien nie, kan die buurtwag die nodige hulp ontbied en bystand lewer.
Inwoners wat hierin sal belangstel kan 'n privaat WhatsApp-boodskap (079 414 0481) stuur. Inwoners moet in die boodskap hul ouderdom verskaf en sê of hulle alleen woon.
Dit is ook noodsaaklik om enige mediese kondisies te verklaar soos kanker, diabetes, hartkwale of hoë bloeddruk. Inligting sal streng vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'