MOSSELBAAI NUUS - Na 24 jaar as skoolhoof, is dit moeilik om jou die 2019-skooljaar in te dink sonder dat meneer Granville Briesies die leisels by Diaz Primêre Skool vat.
Maar na 40 jaar in die onderwys, hoofsaaklik verbonde aan dié skool, volg hy kort op sy ewe bekende vrou, Chantal, voormalige skoolhoof van Hoërskool Sao Bras, wat in Oktober afgetree het, se hakke.
Nuwe gebou
Meneer Briesies het sedert 2002 gepoog om 'n nuwe skoolgebou vir Diaz Primêr te verseker. Dít alleen was 'n groot mylpaal in sy lang loopbaan. "Gedagtig aan waar baie van onse kinders vandaan kom, is dit vir my belangrik dat die kinders na 'n leeromgewing toe moet kan kom waar dit beter is. As dit hier mooi is, kan 'n mens vir die kind ook oordra dat hy of sy kan droom van iets beters vir hom- of haarself. Vir my was dit 'n geestesprojek. Ek is tevrede."
Diaz Primêr het gedy onder mnr Briesies se leierskap. "Kernwaardes by Diaz Primêr is selfbeheersing, selfrespek, selfdissipline, selftrots en dankbaarheid. Dit is deel van ons waarneembare kultuur by die skool. Sonder 'n unieke kultuur en karakter is 'n skool dood."Hy sê dat hy besonder geseënd was met die kwaliteit van opvoeders op sy personeel.
Gemeenskapsleierskap
Bo en behalwe sy toewyding aan Diaz Primêr, het mnr Briesies sy merk in die gemeenskap gemaak. Hy was instrumenteel om in die tagtigerjare te onderhandel om die D'Almeida-stadion te help ontwikkel tot die fasiliteit wat vandag daar bestaan. Verder het hy hom beywer vir die oprig van 'n binnenshusie sportsentrum wat vandag 'n multi-funksionele doel dien in Uitbreiding 23. Hy was ook 'n bestuurslid van die destydse Sportskool, vandag die Arthur Johnson-sportweek. Meneer Briesies is ook sedert die beginjare van die Sussex-krieketklub, betrokke by die bestuur en is later as erepresident verkies.
Van sy grootste nalatenskappe, is die stigting van die Mosselbaai-prinsipale-assosiasie.
In 2014, gedagtig aan die veranderinge en uitdagings van die onderwys, vat die gedagte pos om 'n ruimte te skep waar skoolhoofde mekaar as klankbord kan gebruik.
In 2015 is die Mosselbaai-prinsipale-assosiasie gestig. Die assosiasie dien ook as 'n platform vanwaar gesamentlike kwessies met die onderwysdepartement opgeneem kan word. Van Wyk Dames, skoolhoof van Milkwood Primary neem nou die plek in die voorsitterstoel in.
Rustyd
Na al die jare in die onderwys en ook as gemeenskapsleier, wil hy nou tyd aan sy gesin teruggee. Hy en sy vrou, Chantal sien uit om te reis, gholf te speel en hy hou boonop van visvang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'