MOSSELBAAI NUUS - Hoe die 18-jarige seun wat in die gemakstoel sit dit reg kry om met oorgawe te glimlag en grappies te maak, gaan 'n mens se verstand te bowe. Armandt Venter het vandeesweek by sy ouerhuis in Cecil Shepherdstraat met die Mossel Bay Advertiser gesels op die vooraand van sy sestiende operasie in die afgelope 20 maande. Pas terug na 'n skooldag by Hoërskool Outeniqua in George, skynbaar 'n rare voorreg vir hom aangesien hy verlede jaar bykans nooit in die skool was nie, praat hy saam sonder 'n sweempie selfbejammering.
Armandt is in November 2016 gediagnoseer met osteosarkoom. Osteosarkoom is 'n dodelike vorm van beenkanker wat voorkom by kinders en jongmense, spesifiek tussen 10 en 20 jaar oud.
Nie 'n sportbesering
Armandt was 'n kranige rugbyspeler toe hy, aldus sy pa Rawstorne, toenemend van pyn in sy linkerbeen begin kla het. Aanvanklik het hulle gedink dis 'n sportbesering, maar toe Armandt aanhou kla, het 'n besoek aan 'n radioloog en gevolglike toetse tot die skokdiagnose gelei. "Toe my pa vir my sê dis kanker, was dit nie so erg nie. Maar toe ek hoor ek kan nie meer rugby speel nie, toe tref die nuus," sê Armandt.
'n Spesialisspan in Kaapstad behandel hom sedert sy diagnose, maar ten spyte hiervan is 'n opsomming van sy behandelingspad 'n gruverhaal. Armandt het chemoterapie gehad. Dit het sy immuniteit erg geknou. 'n Reuseprostese is in sy linkerbeen geplaas. Dit moes egter verwyder word en met 'n tweede vervang word. Hy het 'n ernstige infeksie ook opgedoen wat na vele probeerslae slegs met 'n kursus antibiotika wat meer as R60 000 vir net meer as 'n maand se pille gekos het. "Ons het oral rondgebel vir 'n meer bekostigebare prys, maar sal jy glo dat ons dit in Mosselbaai die goedkoopste kon kry," glimlag pa Rawstorne wrang.
Nie goeie nuus
Die sarkoom het na Armandt se longe versprei. 'n Derde van sy linkerlong is reeds verwyder. Gewasse is ook uit sy regterlong verwyder. 'n Groot terugslag, was toe die gesin vandeesweek moes verneem dat twee nuwe gewasse in sy regterlong bemerk is, een bykans so groot soos 'n tennisbal en boonop geleë op 'n uiters senstiewe plek wat chirurgie betref.
"Die goed gaan nie ophou nie," pa Rawstorne se oë blink. Armandt sê ma Santa, praat amper niks. "Hy kan nie verder chemoterapie kry nie. Daar is nog opsies wat bestraling betref. Ons weet nie hoe ver en hoe lank nie." Armandt luister. Hy glimlag maar net.
Rawstorne begin verduidelik hoeveel van die mediese onkoste hulle uit hulle sak moes betaal. Slegs 'n gedeelte word deur 'n fonds gedek. Die bedrae laat 'n mens se keel toetrek.
Fonds gestig
"Ons het die Bone Cancer Osteosarcoma Fund NPC gestig nie net vir Armandt nie, maar juis vir die ander pasiënte wat ons ontmoet. Mens raak soos familie. Ons sien hoe swaar ander gesinne kry, ook finansieel. Wat ons pad vorentoe ookal is, die fonds sal bly. As ons iemand kan help, hoekom nie?"
Santa sê uiteindelik iets - dat sy wil hê mense moet meer bewus raak van osteosarkoom, wat dit is, hoe dit lyk en voel.
Armandt glimlag soos hy luister na die gesprek en sluit af.
"Ek vat dit dag vir dag. Dis maar net iets wat nou in my lewe is. As ek negatief daaroor gaan wees, gaan dit net nog erger wees. Ek bly positief en ek vat dit. My juffrou sê ek raak mense om my aan al praat ek nie oor alles nie. Sy sê as ander kinders na my kyk, lyk hulle probleme kleiner, maar ek sê 'n mens kan nie probleme vergelyk nie."
Om Armandt of die Bone Cancer Osteosarcoma Fund NPC te ondersteun, klik hier vir meer besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'