MOSSELBAAI NUUS - Nellis du Plessis (77), bekende sportpersoonlikheid van Mosselbaai is Maandagoggend, 25 Januarie aan natuurlike oorsake oorlede.
Nellis, wat in 1965 sy Springbokrugbykleure verwerf het, se bydrae tot hierdie sport spreek boekdele.
Hy is gebore en het goot geword in die geskiedkundige Tarka-omgewing. Dit was sy droom om eendag die hoogste sport in rugby te bereik en daarom, as kind was die ovaalbal sy beste speelding. Reeds op 16-jarige ouderdom het hy in die vroeë 1960s sy buiging op senior vlak vir die destydse Mosselbaai-klub gemaak.
Op 19-jarige ouderdom word hy opgeneem in die provinsiale span van SWD en verteenwoordig sy unie ook by twee Rhodes-toernooie (1965 en 1967).
Na sy uittrede as rugbyspeler het hy hom toegespits op administratiewe sake en afrigting by SWD, asook by sy klub tot en met die eenwording in Suid-Afrikaanse rugby.
‘n Groot eer het hom te beurt geval in 1992 toe hy gekies is as die eerste voorsitter van die nuutgestigte Barbarians RVK. Hierdie posisie het hy vir twee termyne beklee tot 1996.
In die beginjare was hierdie klub onder leiding van Du Plessis aan baie uitdagings blootgestel. Ondanks hierdie uitdagings het die klub met sprankelende rugby die nuwe era ingelui.
Sy ongekende passie vir die spel was die dryfveer agter baie jong, opkomende sportmanne se sukses. Hy laat ‘n groot nalatenskap agter.
Sy familie, vriendekring en die rugbygemeenskap het ‘n vader, ‘n vriend en ‘n groot sportman verloor.
Hy laat sy vrou, drie kinders, twee seuns en 'n dogter, asook verskeie kleinkinders en agterkleinkinders agter.
Die begrafnisdiens vind Woensdag, 3 Februarie om 11:00 plaas in All Saints Kerk. As gevolg van Covid-19-regulasies, kan slegs ‘n beperkte aantal begrafnisgangers toegelaat word.
Die familie sal diegene wat die begrafnisdiens gaan bywoon, persoonlik inlig.
Die begrafnis sal regstreeks op sosialemediaplatforms gebeeldsend word.
Nellis du Plessis (eerste van links) saam met ander rugbylegendes tydens Charles Theunissen (derde van regs) se boekbekendstelling in 2013.
Nellis du Plessis
Nellis du Plessis in sy speeldae vir Mosselbaai Klub.
'Ons bring jou die nuutste Mossebaai, Tuinroete nuus'