Streeklanddros JC Nortjé het tydens vonnisoplegging op Dinsdag, 30 Julie gesê die gemeenskap is siek en sat vir verkragting.
Die beskuldigde, Winston Olivier (31), het die klaagster op die aand van 3 Maart 2012 in haar huis, waar sy alleen woon, aangeval.
Hy het glo vooraf 'n groot hoeveelheid drank gedrink en was volgens sy getuienis op soek na iets om te eet, toe hy by die huis ingebreek het. Hy het deurgaans volgehou dat hy nie die klaagster verkrag het nie. Mediese getuienis het egter die teendeel bewys.
Olivier is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir huisbraak met die opset om te steel en 18 jaar vir verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die vonnisse moet gelyktydig uitgedien word.
Nortjé het tydens vonnisoplegging gesê dat die klaagster 'n weerlose vrou was wat in die veiligheid van haar eie huis aangeval is. "Dit was 'n familiewoning wat sy intussen verlaat het, omdat sy nie meer daar veilig voel nie. Dit moes 'n nagmerrie ondervinding vir haar gewees het."
Hoewel Olivier 'n eerste oortreder is, het Nortjé bygevoeg dat die tipe misdaad 'n invloed op die gemeenskap het en weens die erns van die misdaad is langtermyn gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis.
Olivier het tydens die hofverrigtinge uitdrukkingloos voor hom gestaar. Familie het hom in die hof ondersteun. Sy ma het na afloop van die hofsitting buite gaan huil.
Die klaagster het na die vonnisoplegging aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy is bly dit is nou verby. "Ek voel jammer vir sy ma."
Die aanklaer was me Anja Grassman en die saak is deur A/o Alistair Rezant van die FCS-Eenheid Mosselbaai ondersoek.
Dit was in een van hierdie wonings op Die Eiland in Groot-Brakrivier waar die vrou aangeval is. Foto: Louise Karsten
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'