MOSSELBAAI NUUS - 'n Egpaar van Mosselbaai, Graeme en Caroline Minne, is Dinsdag 19 Julie in die Thembalethu-streekhof skuldig bevind aan bedrog van R278 786 853.
Die Minnes het in 'n maroen Corsa Lite by die hof opgedaag en het ontspanne gelyk. Streeklanddros Denise Oberholzer het om 09:30 'n twee uur lange uitspraak in die saak gelewer.
Slagoffers wat honderde duisende rande se verliese gely het, het ook die hofsaak bygewoon. Die egpaar het vanaf 2002 tot 2009 miljoene rande van hoopvolle beleggers in Mosselbaai en sover as Kempton Park ontvang. Meer as 934 mense het hul geld in 'n Ponzi-skema belê met die veronderstelling dat die geld met buitelandse valuta verhandel sou word.
Beloftes is aan beleggers gemaak dat hulle vanaf 4% rente per maand of 65% per jaar sal verdien. Alhoewel Caroline Minne nie direk met kliënte gewerk het nie, het sy toegang tot al die bankrekeninge gehad en was die Minnes se voertuie en eiendomme in haar naam geregistreer.
Graeme Minne het homself tydens sy getuienis as 'n suksesvolle handelaar aan die hof voorgehou, maar die hof het bevind dat hy in sewe jaar slegs een keer wins op die internasionale mark gemaak het. Die res van die tyd het die paartjie aangehou om geld van beleggers te ontvang en die geld gebruik om buitensporige rente te dek en hulself daarmee te verryk.
Oberholzer het tydens haar uitspraak gesê, Minne blameer almal vir die feit dat hy nie geld deur die piramiedeskema gemaak het nie, behalwe homself. "U het selfs die Suid-Afrikaanse Reserwebank blameer." Nadat die Minnes gewaarsku is dat hulle besig is om die bankwet te oortree en dat 'n ondersoek gelas word, het hulle egter steeds voortgegaan en nóg R3 miljoen van beleggers ontvang.
Een van die slagoffers, Bigs Kolbe van Hartenbos, het 'n maand voordat die polisie se teenkorrupsie-eenheid, die Valke, die egpaar in 2009 vasgetrek het, R400 000 aan Minne gegee.
"Ek het nooit 'n sent weer teruggekry het," het Kolbe aan die George Herald gesê.
Minne is skuldig bevind op 'n aanklag van oortreding van die bankwet. Hy is ook skuldig bevind op 'n aanklag van bedrog.
Sy vrou is skuldig bevind as 'n medepligtige op 'n aanklag van oortreding van die bankwet en ook skuldig bevind as 'n medepligtige op 'n aanklag van bedrog. Na afloop van die hofverrigtinge het slagoffers buite die hofgebou aan die George Herald gesê dat hulle nie verbaas is oor die Minnes se skuldigbevinding nie. "Ons almal weet hulle is skuldig.
Ons wil weet hoe lank hulle tronkstraf gaan uitdien," het een van die slagoffer, ene mev. Boshoff gesê. Die egpaar staar 15 jaar gevangenisstraf in die gesig. Die saak is uitgestel tot 21 September vir voorvonnisverslae en vonnisoplegging.
Die egpaar se borgtog is verleng. Die hof het gelas dat die Minnes nie Mosselbaai sonder telefoniese bevestiging van die ondersoekbeampte in die saak mag verlaat nie. Die egpaar moet ook elke Maandag en Vrydag by die Da Gamaskop-polisiestasie aanmeld.
ARTIKEL & FOTO: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'