MOSSELBAAI NUUS - Die groep Mosselbaaiers wat saam met 3 000 ander pasassiers op die Costa Pacifica op 'n transatlantiese vaart is en tans vanweë die koronavirus volgens die beplande roete nie aan wal kon gaan nie, is positief en hou goeie moed.
Só berig Hennie Cremer by navraag in 'n stemnota wat Woensdag deur die Mossel Bay Advertiser ontvang is.
Die skip het op 9 Maart uit Brasilië vertrek en sou by die Kanariese Eilande aandoen en daarna in Barcelona, Spanje aan wal gaan waar hulle 'n paar dae sou vertoef. Die stop in die Kanaries Eilande kon nie realiseer nie en intussen is Spanje se grense vanweë die koronavirus gesluit.
Die toergroep sou via Dubai per vliegtuig terugkeer na Suid-Afrika, maar hoop nou om Marseilles, Frankryk te bereik. Hulle hoop is om vanuit Frankryk huis toe te vlieg. "Ons is nie vasgekeer nie, soos elders berig word nie. Dit is tegnies nie korrek nie. Ons kon net nie van die ekskursies onderneem nie, vanselfsprekend as gevolg van die koronavirus," het Cremer Woensdag, 18 Maart vertel. Volgens hom, was die beplanning dat die skip Marseilles gister, Donderdag, 19 Maart sou bereik.
Volgens Cremer doen die skip se personeel alles in hulle vermoë om reëlings vir die passasiers se deportering so glad moontlik te laat verloop. "Een ding kan ek sê en dit is dat die skip ons beslis gelukkig hou. Soos hulle hier op die skip sê, the show must go on." Cremer sê die skip se personeel is uiters professioneel, ook in hulle hantering van die nodige voorsorgmaatreëls teen die koronavirus. "Mens kan sien hulle weet presies wat hulle doen." Ten slotte het Cremer gesê die bootreis "is wat hulle daarvan maak". "Natuurlik wil ons graag by die huis kom. Ons plan is om in self-kwarantyn te gaan en daarna wil ons aangaan met ons eie dinge."
Cremer het bevestig dat hulle deel van 'n familiegroep is wat na hulle terugkeer na Suid-Afrika, 14 dae in self-kwarantyn sal gaan voor hulle na Mosselbaai terugkeer.
"Dis ons eie reëling. In ons geval is ons deel van 'n familiegroep wat onsself gaan isoleer ter wille van ons families by die huis en die groter Mosselbaai."
* Teen druktyd was dit nog onbevestig of die Costa Pacifica wel Marseilles gehaal het en of die Suid-Afrikaanse passasiers gedeporteer kon word.
Dalk gestrand, maar gelukkig sê Mosselbaaiers Willie en Adelle Harmse, Amanda en Hennie Cremer wie se transatlantiese vaart op die Costa Pacifica vanweë die uitbreek van die Covid-19-virus omvergewerp is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'