Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Moderne en multifunksionele Eeufeessentrum wat kan vergelyk met die bestes, gaan by Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) gebou word.
Dit sal hoofsaaklik deur die skool benut word, maar sal ook tot voordeel van die George-gemeenskap en die Suid-Kaap wees.
Die kapasiteit van die fasiliteit sal voorsiening maak vir 4 000 sitplekke. Sport-, kultuur en sosiale aktiwiteite sal hier geakkommodeer kan word.
Die droom om so 'n sentrum te bou het die afgelope weke momentum gekry. Dit val saam met die skool se Eeufeesvieringe. Die skool is vanjaar 100 jaar oud en daar word reeds sedert die begin van die jaar feesgevier.
Die visie is om die hoeksteen van die gebou voor die einde van die jaar te lê. Dit sal verdere vreugde en aansien aan vanjaar se feesvieringe verleen.
Die gebou sal opgerig word waar die bestaande netbalbane is. Terwyl die sentrum gebou word, sal die netbalspanne op ander bane oefen en speel.
Die projek word beskou as 'n verdere uitbreiding van die skool se geriewe. Nieteenstaande die uitstekende geriewe is daar tog hier en daar tekortkominge. Met die Eeufeesentrum word gehoop om dit aan te spreek.
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, sê op die oomblik is die grootste leemte by die skool dat al 1 722 leerlinge van gr. 8 tot gr. 12 nie in een saal inpas nie. Dit beteken dat gesamentlike saalbyeenkomste nooit gehou kan word nie.
Die leerlinge kon laas in die tagtigerjare in een saal inpas en toé al moes van hulle op die grond sit.
Om die huidige uitdaging te oorbrug word gesamentlike byeenkomste op die skool se Tommie Smook-pawiljoen gehou.
Gesamentlike byeenkomste word ook op die terrein voor die GJB Volschenk-saal gehou. Al die Kwaggaseuns sit tydens die byeenkoms op die grond. Dit word 'n groter uitdaging om sulke geleenthede te hou as die weer nie saamspeel nie.
"Ons het 'n baie groot behoefte om 'n saal te vestig waar elke leerling op 'n stoel kan sit. Dis 'n noodsaaklikheid. Elke leerling is 'n volwaardige en gerespekteerde lid van die Kwagga-gemeenskap." Die uitdaging strek egter wyer as net gesamentlike saalbyeenkomste.
Daar moet mooi beplan word wanneer eksamen geskryf word. Dit gebeur soms dat van die leerlinge hul eksamen in nabygeleë kerksale moet skryf.
In die toekoms kan dit nog 'n groter uitdaging word.
Op die oomblik is daar 362 gr. 10-leerlinge. Die sentrum het noodsaaklik geword vir die aflê van 2025 se eindeksamen.
Mnr. Vorster sê benewens die hoofsaal sal daar ook 'n kleiner saal met kleedkamers en kantore wees.
Die sentrum sal ook vir sportgeleenthede gebruik kan word. Netbal, 'n wintersport, kan nie voortgaan as dit reën nie. Dit skep 'n logistieke nagmerrie want van die besoekende skole se netbalspanne is al op pad en dan begin dit in George reën. Hulle kan dan nie buitenshuis speel nie. Daar sal ook tennis gespeel kan word en oefengeriewe vir krieket, gholf en hokkie word beplan.
Dis egter nie net sport wat voordeel sal trek nie. Kultuurbewustes sal dit ook kan gebruik vir byvoorbeeld koorfeeste.
'n Museum wat die skool se lang ryke geskiedenis uitbeeld sal ook later daar ingerig word.
By Vorster is daar geen twyfel dat die voordele van die sentrum ver buite die skool se grense weerklank sal vind nie.
Konferensies en openbare geleenthede sal daar aangebied kan word. Musiekfeeste kan veral vanaf 15 Desember tot 10 Januarie, wanneer duisende vakansiegangers en besoekers in die Tuinroete kom kuier, hier aangebied word.
Die vestiging van die sentrum sal hoofsaaklik deur die skool, oudleerlinge en bydraes uit die privaat sektor gefinansier word. Toekomstige ouers van leerders word ook gevra om betrokke te raak.
Hoërskool Outeniqua is in die bevoorregte posisie dat hy reeds ondernemings het van verskillende rolspelers wat 55% van die projek sal finansier.
Nou wag die harde werk om die eindstreep te bereik. Mnr. Vorster doen 'n beroep op mense om betrokke te raak. Dit gaan uiteindelik 'n reuse aanwins vir die Suid-Kaap wees.
Fondsinsamelingskoördineer van die projek aangestel.
Marius Bezuidenhout, die voorsitter van die beheerliggaam, is net so opgewonde oor die bou van die sentrum.
Die integrasie van akademies met sport- en ontspanningsaktiwiteite binne 'n enkele plek is 'n konsep wat toenemend gesog geword het onder skoolgemeenskappe. Hoërskool Outeniqua, 'n skool wat daartoe verbind is om 'n inklusiewe leeromgewing vir elke kind te bied, erken die waarde van hierdie veelvlakkige sentrums as 'n moderne oplossing wat die behoefte om afsonderlike fasiliteite vir elke sportsoort te bou, uitskakel.
Dit is noodsaaklik om ons leerders van 'n inspirerende en praktiese opvoedkundige omgewing te voorsien, en daarom poog Hoërskool Outeniqua om 'n toekomsgerigte fasiliteit aan te bied wat nie net waardig is nie, maar ook 'n positiewe leerervaring bevorder.
Eeufeesentrum by Hoërskool Outeniqua.
Namate die George-gemeenskap aanhou uitbrei, is dit ons verantwoordelikheid om kreatief in die behoeftes van ons leerlinge te voorsien. Ouers het hul opgewondenheid uitgespreek om die bou van die "hart" van die skool te ondersteun, kompleet met klaskameropsies, 'n arena vir skolesport, 'n ouditorium vir kulturele aanbiedings, 'n saal vir erkennings en alumni-byeenkomste en ook 'n gemeenskapsfasiliteit wat toerismespandering kan aanmoedig.
As 'n gemeenskap het ons 'n opwindende geleentheid om bymekaar te kom en 'n beduidende impak te maak deur die kritieke projek.
Ons ouers het reeds hul verbintenis tot hierdie poging getoon deur 'n leningterugbetalingsbedrag in die begroting goed te keur. Om hierdie projek egter 'n werklikheid te maak, benodig ons die ondersteuning van die hele gemeenskap, insluitend plaaslike besighede en individue.
Ons is ongelooflik dankbaar dat 'n groot instelling ons 'n leningsgedeelte sonder rente aangebied het, wat baie sal help om hierdie projek finansieel lewensvatbaar te maak. Ons wil ook erkenning gee aan die vrygewigheid van sakeleiers wat reeds bydraes tot hierdie inisiatief gemaak het.
Ons glo dat deur op hierdie momentum voort te bou, ons ander kan inspireer om betrokke te raak en ons te help om ons doel te bereik.
Pogings is reeds aan die gang om belangrike strategiese vennote, aansporings, befondsing en vroeë borge / korporatiewe vennootskappe te bekom wat nodig is om die konstruksie van die eeufeessentrum te verwesenlik. Ons rig hartlik 'n uitnodiging aan u om saam met ons 'n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van diegene wat ons dien.
Kontakbesonderhede om betrokke te raak:
Marna van Zyl 082 923 1711 / eeufeessentrum@outeniqua.co.za
Kwagga Eeufeessentrum prospektus
Kyk 'n video hier: http://www.outeniqua.co.za/eeufees/#video
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’