HERBERTSDALE NUUS - Nuwe huise word vir Herbertsdale beplan en Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het verlede week die eerste sooi vir die nuwe ontwikkeling gespit.
Meer as 150 huise word in hierdie behuisingsprojek in die vooruitsig gestel.
Dit is slegs die tweede behuisingsprojek op die landelike dorpie sedert die negentigerjare, en word ook die grootste kapitaalprojek tot nog toe op Herbertsdale.
Al die begunstigdes vir die huise is van Herbertsdale en van plase in die omgewing.
“Ons is baie bly dat die Herbertsdale-behuisingsprojek na jare van onderhandelings kan begin.
"Dié projek lê my na aan die hart, want dis die plek waar my voorsate vandaan kom,” aldus burgemeester Levendal.
Die projek behels 154 ten volle gedienste erwe met huise, waarvan die dienstekomponent van die projek reeds in 2016 teen ’n koste van R6,9 miljoen voltooi is.
Die tender om die huise te bou is onlangs aan die kontrakteur, Marnol Projects toegeken wat reeds met die grondwerk begin het.
Elke huis gaan sowat 40 vierkante meter groot wees, met twee slaapkamers, ‘n badkamer en oopplan-sitkamer en kombuis.
Na beraming sal die projek teen Oktober 2018 voltooi te wees.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het die eerste sooi van 'n behuisingsprojek in Herbertsdale gespit. Saam met hom is verskeie rolspelers, onder meer amptenare en kontrakteurs en lede van die Herbertsdale behuisings- en wykskomiteelede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'