MOSSELBAAI NUUS - Verlede week was ‘n besonderse een vir die Mosselbaai-munisipaliteit in die tasbare uitleef van die strategiese doelwit om universele toegang te bevorder. Bo en behalwe die blinde navigatorstydren wat op Saterdag, 1 April, plaasgevind het, was ‘n groot hoogtepunt die eerste kwadrupleeg wat die strandstoel vir persone met gestremdheid, op Santosstrand benut het.
Alwyn Moolman was op Vrydag, 31 Maart, vir die eerste keer in bykans 30 jaar weer in die see om die branders te geniet.
Moolman en sy gesin het vir die Paasvakansie by sy ouers, Chris en Mercia, inwoners van Klein-Brakrivier kom kuier en toe besluit om van die strandstoel, verskaf deur die Mosselbaai-munisipaliteit gebruik te maak.
Moolman het as ‘n jong man ‘n kwadrupleeg geword na ‘n swemongeluk in die Renosterrivier tussen Kroonstad en Edenville in die Vrystaat. Hy het desnieteenstaande sy doktorsgraad verwerf en volgens sy vrou, Jenny het sy gestremdheid hom geensins weerhou om talle avonture aan te pak nie.
Hy is ook die pa van ‘n pragtige, slimkop tweeling, Livia en Mercia.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’