MOSSELBAAI NUUS - Die Garden Route Kansa Relay for Life (RFL) het vanjaar weer gespog met goeie deelname.
Volgens die organiseerders het 27 spanne vanjaar deelgemeen aan hierdie deurnagstaptog wat vanaf 7-8 Maart by die D'Almeida-stadion plaasgevind het.
Die wenspan wat die meeste geld ingesamel het was die Nativiy Kerk se span. Hulle spog met 'n bedag van R66 590. Die Stoepsitters was kort op hul hakke met R45 204.
Van die hoogtepunte tydens die Kansa RFL, was 'n optrede deur die TS Outeniqua Seekadette en ook die All Saints Brigade. Hierdie groepe het opgetree deur saam met die kankeroorwinnaars en hul sorggewers 'n rondte te stap. Volgens die toeskouers, was dit 'n besonderse aandoenlike gebeurtenis.
John Phillipus het sy verhaal gedeel van toe hy op 27-jarige ouderdom met die siekte gediagnoseer is en wat sy pad vorentoe behels het. "Daar is lewe na kanker. My pad met kanker het my 'n diepe insig oor die lewe gegee, geniet dus elke oomblik."
Phillipus het 'n plaaslike kliniek besoek op 13 Februarie 2018 aangesien hy erge pyn beleef het tydens urinering. Hy is behandel vir blaasinfeksie. Toe sy toestande egter vererger, het hy 'n dokter besoek wat hom vir verdere toetse verwys het. Die uitslag toon 'n groeisel op sy prostaat wat soos kanker lyk.
"Ek het gegaan vir 'n tweede, self derde opinie en al die toetse het dieselfde uitslag gehad. My hele wêreld het onderstebo gedraai. Hoekom ek? Nog net 27, met soveel drome?" vertel Phillpus.
Hy sou in Junie 2018 geopereer word, maar die gewas word net groter en die kanker versprei. "Op 4 Mei is my prostaat verwyder en toe begin die chemoterapie en bestraling."
Hy vertel van die newe-effekte van behandeling en hoe dit hom affekteer het. "Die swak gevoel na chemo, die bitter gevoel na bestraling, die haarverlies, die nagte van trane, die gewigsverlies. Ek moes hormoonbehandeling kry omdat my prostaat voor die ouderdom van 30 verwyder is."
Gedurende hierdie tydperk, is sy ma ook met kanker gediagnoseer.
"Ek het dikwels gedurende hierdie proses gevoel ek wil moed opgee, maar ek het uitgehou." In Mei 2019, is Phillipus kankervry verklaar.
"Ek droom van 'n kankervrye wêreld. Eendag is eendag, dan sal kanker net in ons verlede wees."
'n Gebrek aan gees was daar glad nie onder die deelnemers nie. Foto: Donovan Poole
En daar is altyd tyd vir 'n selfie om die oomblik vas te vang. Foto: Sharlton Groenewald
Jong sorggewers is ook tydens een van die rondes vereer vir hulle bydrae.Foto: Donovan Poole
Die TS Outeniqua Seekadette saam met van die kankeroorwinnaars.Foto: Donovan Poole
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'