Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Jimmy Stergianos en sy broer, Peter het 45 jaar gelede die Eden Country Inn in Klein Brak gekoop en dit oor die jare opgebou tot 'n gewilde oornag- en kuierplek.
Jimmy, sy vrou Helen (albei 75) en hul twee kinders was aktief betrokke by die bestuur van die Inn en Pieter 'n stil vennoot.
Jimmy en sy vrou het ook hotelle in Heidelberg en Noupoort bedryf en hy vertel trots dat hulle ook die eerste "steakhouse" in die Tuinroete oorgeneem het toe hulle die besigheid oorgeneem het.
Die Inn is halfpad tussen Kaapstad en Port Elizabeth geleë en was 'n gewilde oornag- en veilige oplaaiplek vir ouers van die Oos-Kaap wat kinders in Kaapse skole of op universiteit gehad het.
Jimmy en Helen se twee kinders, Themi en Callia, was van kleins af deel van die span. "Ons dogter het haar eerste treetjies hier gegee. Hulle het gehelp om brandstof in te gooi, om koeldranke te bedien, by ontvangs gewerk en in die kombuis gehelp." Jimmy vertel laggend dat hul baie keer dikbek was vir hul pa, omdat hulle nie baie saam met hul vriende op die strand kon kuier nie, maar hy sê dit het hulle 'n goeie besigheidsgrondslag gegee.
Altwee het verder in die finansiële veld studeer. Hul dogter bly in Johannesburg en hul seun in Abu Dhabi.
Jimmy het in Junie 'n dubbele hartom-leiding en hartklepvervanging gehad en die familie het toe finaal besluit om hul geliefde "Inn" te verkoop. Hy wil veral sy bekwame en lojale personeel en jarelange kliënte wat later vriende geraak het, bedank vir hul diens en ondersteuning van vier en 'n half dekades. Alan Brinkley was die oorspronklike eienaar van die gebou sedert 1964.
Hy het die destydse Motel aan Massy Hicks verkoop.
Die Motel is in 1977 deur die Stergianos'e gekoop en die naam is in 2004 na die Eden Country Inn verander.
Ken Maloney, kunstenaar en eienaar van 'n bekende restaurant naby Groot-Brakriver, is nou die nuwe eienaar van die Eden Country Inn.
Volgens Ken besluit hulle nog wat hulle uiteindelik met die Inn gaan doen. "Ons gaan wel die geskiedenis en nostalgie van die Inn behou deur die naam te verander na Brinkley's wat die eerste eienaar was."
VIDEO - Jimmy Stergianos, Eden Country Inn se eienaar vir 45 jaar, tree nou af:
VIDEO - Jimmy Stergianos, owner of the Eden Country Inn in Klein Brak:
Dogter Callia, Jimmy, Helen en seun Themi Stergianos in 1985.
Die bekende Eden Country Inn in Klein-Brakrivier kry na 45 jaar 'n nuwe eienaar met nuwe planne.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'